NEANDER, JOACHIM

NEANDER, JOACHIM (1650–1680). Volgens oorlewering was Joachim Neander se oorspronklike van Neumann, “nuwe mens”. Sy oupa het egter volgens die tradisie van sy tyd die familienaam na Neander verander. Neander studeer teologie* in sy geboortedorp, Bremen. In 1671 word hy onderwyser in Heidelberg, Duitsland. In 1673 verhuis hy na Frank­furt waar hy in aanraking kom met die piëtiste, Philip Jakob Spener en Johann Schütz (Kyk by: Piëtisme). Vanaf 1674 word hy hoof van die Reformierte Lateinschule in Düsseldorf waar hy Latyn onderrig. In Düsseldorf het hy graag na die afgeleë Düsselriviervallei gegaan waar hy die inspirasie vir baie van sy gedigte en liedere gekry het. Hy het gereeld byeenkomste in die vallei gereël waartydens hy die Woord bedien het. Die vallei is in die 19de eeu na hom vernoem en het in 1856 beroemd geword toe die oorblyfsels van die Homo neanderthalensis, die sg neanderthal-mens, daar gevind is. Neander word in 1679 ’n priester*2 in Bremen nadat sy populariteit by die ongeskooldes in Düsseldorf hom in konflik met die kerkadministrasie gebring het. Neander se groot bydrae is ongetwyfeld die groot liedere- en gedigteskat wat hy nagelaat het. Een van sy bekendste liedere is die oorspronklike teks van Lof­sing die Here, die Ewige, sing tot sy ere! (Lied 184, Liedboek van die kerk*). Drie van sy melodieë, nl dié van Lied 158, Lied 159 en die bekende Lied 197, Wonderbare Koning (in lg geval het hy ook die oorspronklike teks geskryf) is bykans 330 jaar later in die Liedboek van die kerk opgeneem.

Sidebar