NEBUKADNESAR

NEBUKADNESAR, koning van Babilo­nië* (605–562 vC), was die seun van Nabopolassar*. Hy trek in 597 vC teen Juda* op, onttroon koning Jojakim* en plaas Sedekia* op die troon. Tydens ’n tweede beleg in 586 vC word Jerusalem* en die tempel* verwoes. Sy opvolger, Ewil-Merodak, het Jojagin vrygelaat en aan hom ’n hoër status gegee as ander konings in dieselfde posisie. Hy kon van sy tronkklere ontslae raak, ’n toelae ontvang en aan die koning se tafel eet (Jer 52:31).

In die ou wêreld is ’n koning aan sy bouwerke gemeet (dink aan Salomo*). In dié verband het Nebukadnesar uitgeblink. So is ’n koning as ’n soort supermens vereer, eintlik as ’n god. Dit geld ook vir Nebukad­nesar (Dan 4:30-31; vgl Herodes*, Hand 12:22).

Die verwoesting van hulle eie land, stede en tempel, het die teenoorgestelde uitwer­king op Israel* gehad. Hulle het hierdie op­tre­de verstaan as die oordeel van God. So teken die skrywer van Daniël* vir Nebu­kad­nesar as ’n tiran met insluiting van die karaktertrekke van Nabonidus (556–539 vC) wat die beeld van ’n despoot daarstel. Sy mag het tot ’n einde gekom toe hy in 562 vC gesterf het.

Vir verdere lees: DN Freedman (hoofred) 1992. Anchor Bible Dictionary. New York: Doubleday. JD Douglas 1998. Illustrated Bible Dictionary. Leicester: IVP. GA Buttrick 1962. Interpreter’s Dictionary of the Bible. Nashville: Abingdon Press. MC Tenney 1975. Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible. Grand Rapids: Zondervan.

 

Sidebar