NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA (NHKA)

NEDERDUITSCH HERVORMDE KERK VAN AFRIKA (NHKA). In hierdie naam lê die geskiedenis en identiteit van dié kerk opgesluit. Nederduitsch is ’n kul­tuurmatige omskrywing wat die taal- en kultuur­afkoms van die kerk uit Wes-Europa be­klemtoon. Hervormde gryp eerstens terug na die Kerkhervorming* van die 16de eeu toe die kerk opnuut gevorm is na die eise van die Heilige Skrif*. Tweedens is dit uitdrukking daarvan dat die kerk gerig en gemeet wil word aan die Heilige Skrif* as bron en norm vir leer en lewe. Derdens handhaaf die kerk daarmee die naam wat as wisselvorm aan die Kaap geldig was. Die sleutelbegrip is kerk en daarmee bely die kerk dat hy een is met en ’n openbaring is van dieselfde “heilige, algemene, Christelike kerk” wat uit die Heilige Skrif in die drie ekumeniese* belyde­nisse* en die drie formuliere van eenheid* bely word. Van Afrika dui die kontinent aan waar die kerk sy spore getrap het.

Dat die kerk vanaf 1842 selfstandig en onafhanklik in die Zuid-Afrikaansche Republiek georganiseer en gevestig is, kan teruggevoer word na die Groot Trek wat op kerklike terrein die totstandkoming van verskillende kerke help voorberei het. Die kerk het sedertdien sy kwota aan storms, kerklik en nie-kerklik, saam met die Afrika­nervolk* in wie se midde hy leef en werk, deurleef en oorleef. In sy kerkorde* is die kerk dan ook ’n “volkskerk” genoem. ’n Eie teologie* is ontwikkel wat as Bybels*-reformatories bestempel word, terwyl kerkregtelik vasgehou word aan die presbiteraal-si­no­dale orde.

Die NHKA se lidmaattal is in 2013 op 119 400 gestel, en gemeentes is versprei oor die hele Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe, Zambië en Botswana. Aan die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria word predi­kan­te sedert 1917 opgelei, terwyl predikan­te vir die Hervormde Kerk in Suidelike Afrika, die sendingarm van die kerk, in samewerking met die teologiese fakulteit aan die kerk se Afrika-Instituut vir Missio­logie (Sendingwetenskap*) opgelei word. Sedert 1940 is die vrouelidmate van die kerk georganiseer in die Nederduitsch Hervormde Sustersver­e­niging, en die NHKA was die eerste van die Afrikaanse susterkerke wat die vrou tot al die kerklike ampte toegelaat het. Van 1923 af het die kerk verweesde en verwaarloosde kinders in drie weeshuise versorg. Vanweë ’n veranderde benadering is die weeshuise vervang deur gesinseenhede en is kinders in diakonale pleegsorghuise versorg. Aan die kategese* gee die kerk baie aandag en jong lidmate word gemeentelik in ’n jeug­vereniging georganiseer. Die NHKA beskik sinodaal oor ’n kerkkoe­rant Die Hervormer*, as amptelike mondstuk, Konteks as gesinstydskrif, en die jaarlikse uitgawe van Almanak en Bybelse Dagboek.

Vanweë die NHKA se standpunte oor onder meer apartheid*, was die kerk eku­menies* lank geïsoleerd. Die kerk het in die 1960’s uit die Wêreldraad van Kerke* getree en in die 1980’s uit die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke*. In die vroeë jare van die 21ste eeu het die NHKA aansoek ge­doen om terug te keer na die Wêreldbond, en het sy siening van apartheid en die bepaling oor die kerk as ’n volkskerk in sy kerkorde heroorweeg. Spanning oor hierdie en verwante sake het in 2013 daartoe gelei dat sommige “dolererende” (beswaarde) gemeentes hulle in die praktyk van die kerkverband losgemaak het.

 

Sidebar