NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK EN EKUMENE

NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK EN EKUMENE. Die NG Kerk se geskiedenis is nou verweef met haar ekumeniese* verhoudinge – en sy is ook gevorm deur dié verhoudinge. Kontak met ander kerke het eers teen 1778 ’n werklikheid geword toe ’n Lutherse* gemeente* aan die Kaap toegelaat is. Met die Kerkorde van De Mist* in 1804, wat alle kerke oor dieselfde kam geskeer het, en die tweede Britse besetting in 1806, het ander kerke hulle hier kom vestig. Die geskiedenis toon hoe die NG Kerk met amper elke ander tradisie en kerk in die land op die een of ander wyse bande of skakeling geniet het of geniet. Die nouste daarvan is met die drie ander kerke in die “enger” NG Kerkfamilie* (Verenigende Geref Kerk in SA [VGKSA]*, NG Kerk in Afrika [NGKA]* en Reformed Church in Africa [RCA]*), asook met die twee kerke wat in die laat 1800’s weggebreek het: die Ned Herv Kerk van Afrika* (1853) en die Geref Kerke in SA* (1859).

Daar is van vroeg af gesoek om verhoudings met plaaslike ekumeniese liggame aan te knoop. Die groot geestelike konferensie van 1860 (Worcester) met afvaardigings uit sewe kerklike groeperinge, was waarskynlik die eerste. In 1881 kom die Natal Missionary Conference tot stand met indiwidue uit talle kerke as lede, en dit lei tot die General Missionary Conference (GMC) (1904). Die GMC word later opgeneem in die Christenraad van SA (Bloemfontein, 1936), waaruit die NG Kerk vier jaar later onttrek om ’n eie Federale Sendingraad te vestig – met deurentydse kontak en konferensies met die Christenraad. Die NG Kerk neem ook deel aan die historiese Cottesloeberaad* in Desember 1960 wat op inisiatief van die Wêreldraad van Kerke (WRK)* gereël is (waarvan die Kaapse en die Transvaalse NG Kerke sowel as die Ned Herv Kerk toe nog lid was) om die apartheid*situasie in Suid-Afrika te bespreek. Die regstreekse gevolg van die kritiese Cottesloe-besluite oor apartheid, was dat die NG Kerk en die Ned Herv Kerk hulle lidmaatskap van die WRK beëindig het.

Die Christenraad het in 1968 opgegaan in die SA Raad van Kerke (SARK)* waarteenoor die NG Kerk lank afwysend gestaan het, maar sedert die 2000’s ’n aktiewe lid is en in die leierskap dien. Die NG Kerk het, 30 jaar ná die Cottesloeberaad, ’n belangrike rol gespeel in die organisering van die Rustenburgberaad* in November 1990: die eerste beraad van nagenoeg al die hoofstroomkerke in Suid-Afrika met die doel om die landsituasie en die kerk se verantwoordelikheid ten opsigte daarvan te bespreek. Dáár is die NG Kerk se afwysing van apartheid in duidelike taal aan die kerke van Suid-Afrika oorgedra.

Plaaslik is die NG Kerk ook lid van die Evangelical Alliance of South Africa, die Conventus van Reformatoriese Kerke, die Tussenkerklike Raad, asook van die intergodsdiens-groep, die National Religious Leaders Council, wat van tyd tot tyd met die regering skakel.

Internasionaal was die NG Kerk van vroeg af by ekumeniese bedrywighede betrokke: in die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke* (en in sy voorgangers sedert 1877), as stigterslid van die Geref Ekumeniese Sinode/Raad (GER)* (sedert 1946), en in die Wêreldraad van Kerke (tot 1961 en met ’n terugkeer in 2016). Lidmaatskap van die World Reformed Fellowship word onderhandel (2015), en die kerk is ook betrokke by die Global Christian Forum.

In Afrika is die NG Kerk sedert 2013, vir die eerste keer in 50 jaar, lid van die All Africa Conference of Churches. Daar bestaan ook besondere bande en vennootskapsverhoudinge met die breër NG Kerkfamilie* wat uit die NG Kerk se werk in talle Afrikalande ontstaan het.

Die NG Kerk was, as gevolg van die siening oor apartheid, etlike dekades (1960-1990) ekumenies in ’n groot mate geïsoleerd, hoewel die kerk nooit opgehou het om bande met ander kerke te probeer bind nie. Sedert die 1990’s, en veral in die eerste dekades van die 21ste eeu, het daar ’n beduidende verandering gekom en het die NG Kerk weer ’n belangrike en welkome ekumeniese rolspeler geword.

 

Sidebar