NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK IN AFRIKA (NGKA)

NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK IN AFRIKA (NGKA) konstitueer in 1963 as Algemene Sinode deur die saambring van vier kerke (Vrystaat, sinodale verband in 1910 gevorm, Transvaal 1932, Kaapland 1951, Natal 1952). Hierdie kerke het uit werk van die NG Kerk* onder swartmense in Suid-Afrika ontstaan. Mettertyd verdeel Kaapland in drie en Transvaal in twee streeksinodes.

Toe die NGKA in 1994 met die NG Sendingkerk* die Verenigende Gerefor­meer­de Kerk* in Suider Afrika (VGKSA) vorm, sluit die oorgrote meerderheid van die NGKA daarby aan, maar ’n minderheid (hoofsaaklik gemeentes uit die voormalige Vrystaat- en Phororo- streeksinodes) besluit daarna teen hereniging, hoofsaaklik vanweë besware oor die Belydenis van Belhar*. Hulle herkonstitueer as NGKA met twee streeksinodes en verkry deur middel van ’n hofuitspraak die reg om as die ou NGKA te kontinueer. ’n Onverkwiklike stryd volg op sinodale en veral gemeentelike vlak tussen die VGKSA en die nuut gestigte NGKA en dit belemmer ook die groter proses tot kerkhereniging binne die NG Kerkfamilie*. ’n Ligpunt was toe die aansoek in 2004 van die NGKA om deel te word van die verenig­de Algemene Kommissie vir Getuienisaksie van die NG Kerkfamilie, eenparig goedge­keur is. In 2006 word die NGKA ook deel van die verenigings-/herenigingsprosess van die NG Kerkfamilie. Die huidige NGKA bestaan uit sowat 166 gemeentes en 100 000 belydende lidmate.

Sidebar