NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK: VESTIGING IN NAMIBIË

NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK: VESTIGING IN NAMIBIË. Die planting van die NG Kerk* in Namibië (indertyd Duits-Wes-Afrika, en later Suid­wes-Afrika) het gekom saam met die vesti­ging van Afrikaner-boere (sien Afrikaner-Dorslandtrekke*). Die eerste migrasiebe­wing was oor die Oranjerivier in die suide vanaf 1870. Hulle is gesien as ’n bedreiging deur beide die Duitse regering en die plaaslike Nama*- en Herero*-gemeenskap­pe. Selfs die Rynse sendelinge, Britse handelaars en Engelse regering in die Kaap was krities teenoor die migrerende Afrikaner-trekke. In 1892 het hierdie negatiwiteit begin verander toe die Duitse regering ’n verklaring uitgereik het dat die Afrikaners* ’n navolgenswaardige voorbeeld vir Duitse koloniste gestel het.

Rynse sendelinge* het die trekboere begin ondersteun. Hulle het verantwoordelikheid aanvaar vir hulle geestelike versor­ging, eredienste* en die doop* van kinders – Wandres te Warmbad en Simon te Gibeon. Die sendelinge het ook vertoë gerig tot die NG Kerk in die Kaap om hulle lidmate* te besoek. Die resultaat was die stigting van die eerste gemeentes*, Groot Namakwaland (1898) en Moria (1902). Voordat eerw Leonard* die eerste voltydse leraar* van die twee gemeentes geword het (1910), het ou­derlinge* leiding geneem, onder andere kerksekretaris Frans Smeer van Gibeon (in Oktober 1904 vermoor, saam met 22 ander Afrikaner-boere, tydens die Nama-opstande teen Duitse gesag).

Ná die Eerste Wêreldoorlog* (met die “Vrede van Khorab”, 1915) het ’n omvattende vestiging van NG lidmate gevolg. Die meeste Afrikaners in Namibië was gekant teen die oorlogspoging van die Suid-Afri­kaan­se regering teen die Duitsers (Kyk by: Rebellie). Ná die koms van die Suid-Afri­kaanse mandaatregering (1919) het baie amptenare hulle in Namibië gevestig, ge­volg deur groot getalle Afrikaner-boere. Teen 1922 was daar reeds 7 000 NG lidmate. Ook die Dorslandtrekkers van Humpata (Angola), waarvan talle NG lidmate was, het in 1928 teruggekeer na Namibië en by hulle onderskeie kerkverbande ingeskakel.

In 1940 is die eerste twee ringe (Gibeon en Otjiwarongo) gevorm, en in 1953 die ring van Windhoek. (Ring = groep nabyligggende gemeentes). Teen 1957, toe die eers­te sinode* in Namibië gekonstitueer het, was daar 27 NG gemeentes.

Vir verdere lees: GL Buys en Nambala SVV 2003. History of the Church in Nami­bia – an Introduction. Windhoek: Gams­berg-Macmillan. JJ Kritzinger 1972. Sending en kerk in Suidwes-Afrika. DD-Proefskrif, Universiteit van Pretoria. MM Nieuwoudt 1979. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suidwes-Afrika. DTh-Proefskrif, Universi­teit van Stellenbosch.

Sidebar