NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK

NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK. Die bestaan van die NG Kerk spruit uit die landing van Jan van Riebeeck* en sy mede-Nederlanders in 1652 aan die Kaap. Die “Nederduitse” in die naam vertel die verhaal: die historiese wortels van hierdie kerk lê in die laer “duitse” lande of Neder­land.

In 1665 word die eerste ge­meente*, nl Kaapstad, gestig. Hierna vermeerder die gemeentes stelselmatig om in 2013 meer as 1 100 te tel in Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe en elders. Die lidmaattal in Suid-Afrika is in 1985 op 1 449 462 gestel, en in 2010 op 1 089 055 (Kerkspieël). Verskeie sino­dale verbande vorm deur die jare in die NG Kerk: die Kaapse Sinode (1824), Natal en die Vrystaat (1864), Transvaal (1866), Nami­bië (1957) en Midde-Afrika (1957). Ná ’n lang en tragiese geskiedenis waarin die uitspraak in die Loedolff*-saak voor die Kaap­se Hooggeregshof in 1862 ’n groot rol ge­speel het, kom die eerste algemene si­no­dale verband eers 100 jaar later – in 1962 – tot stand. Sedertdien het beide die Kaapse en Transvaalse sinodes intern verdeel en meer sinodes gevorm, terwyl Midde-Afrika in 2004 formeel weer deel van Noord-Transvaal (nou die Noordelike Sinode) geword het.

Sedert die 19de eeu groei talle jonger kerke uit die sending*werk van die NG Kerk. Van hulle strek sover as Malawi, Zambië, Nigerië en selfs Portugal.

Vanuit die kerk se Nederlandse gereformeerde* tradisie, handhaaf die NG Kerk drie algemene belydenisse, naamlik die Belydenisse van Nisea* en Atanasius* en die Apostoliese Geloofsbelydenis*, én drie gereformeerde belydenisskrifte, nl die Neder­l­andse Geloofsbelydenis*, Heidel­berg­se Kategismus* en Dordtse Leerreëls*. Dié belydenisskrifte is in 1618–1619 deur die Dordtse Sinode in Nederland aanvaar en daarna deur die NG Kerk gehandhaaf. In 2011 het die Algemene Sinode besluit dat die kerkordelik-korrekte weg gevolg moet word om ook die Belydenis van Belhar* deel van dié kerk se belydenisgrondslag te maak, maar ’n poging om dit in 2014 te laat gebeur, het nie geslaag nie. By die eerste Algemene Sinode in 1962 is besluit op ’n kerkorde* wat doelbewus probeer om ’n moderne, hersiene uitgawe van die Dordtse Kerkorde van 1619 te wees.

Deur die eeue word die NG Kerk uit verskillende oorde beïnvloed. Daar is Neder­landse spore soos dié van die Nadere Re­formasie* met sy klem op gereformeerde belydenis én ’n ervaring met God, ’n ortodoksie/intellektualisme en selfs libera­lisme. In die 19de eeu word die predikantekorps aangevul met ’n aantal Skotte wat tegelyk ortodoks en evangelies/evangelikaals* was. Laasgenoemde openbaar ’n be­perkte openheid teenoor sekere piëtistiese, herlewings-, heiligheids- en later selfs Pink­sterbewegings, en dra daartoe by dat die NG Kerk in die 21ste eeu meer as een vroomheidstipe huisves.

Veral sedert die 1990’s en ná apartheid* – ’n stelsel wat vroeër deur die NG Kerk ge­steun is – brei die kerk se ekumeniese* be­trek­kings sterk uit. Die kerk is onder meer lid van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke* en die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke*, en het in 2016 weer lid van die Wêreldraad van Kerke* geword. Daarby bly die kerk verbind aan God, Afrika* en eenheid met die jonger kerke, soos die Algemene Sinode in 2002 herbevestig het. (Kyk ook by: Nederduitse Gereformeerde Kerk en Ekumene.)

Vir verdere lees: GS Hofmeyr (red) 2002. NG Kerk 350. Eenhonderd bakens in die geskiedenis van die Nederduitse Gerefor­meerde Kerk, 1652–2002. Wellington: Lux Verbi.BM. Vincent Brümmer 2013. Vroom of regsinnig? Teologie in die NG Kerk. Wellington: Bybel-Media.  

Sidebar