NEDERIGHEID

NEDERIGHEID beskryf ’n lewenshou­ding wat kenmerkend is van mense wat die Here* dien. Dit is ’n houding van nie-grootdoenerigheid by mense, van weet wie hulle is en Wie God is, ook wanneer groot verantwoordelikhede op hulle geplaas word. Dawid* ag homself gering by die besef dat hy tot koning* van Israel* aangewys is. Sag 9:9 profeteer dat nederigheid kenmerkend van die verwagte Messias* sal wees en dat Hy op ’n donkie sal ry om dit te toon. Hier­die profesie het in vervulling gegaan toe Jesus* voor die Pasga*viering Jerusalem* op ’n donkie binnegery het. Dit karakteriseer Jesus se selfbeskrywing van sy lewenshou­ding teenoor dié van die Fariseërs* (Matt 11:29; 23:12). Jesus roep sy volgelinge op om dit van Hom te leer (Luk 14:11). Maria*1 meen dat juis haar nederigheid ’n eienskap is wat raakgesien is (Luk 1:48), en dat dit daartoe bygedra het dat sy die begenadigde vrou kon word – wat weer bevestig dat die Here aan die nederiges genade betoon. Met hierdie gesindheid van sagmoedigheid, van ander hoër te ag as jouself, moet dissi­pels* van Jesus hulle beklee. Maar die Gees* wil dit ook as vrug by die gelowiges bewerk (Gal 5:23).

 

 

Sidebar