NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS

 

NEDERLANDSE GELOOFSBELYDENIS. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (in Engels: Belgic Confession) is oorspronklik in 1561 deur Guido de Brès* in Frans opge­stel. De Brès het as jongman deur persoonlike Bybel*studie ’n oortuigde aanhanger van die Kerkhervorming* geword. Hy moes meer as een keer vir sy lewe vlug omdat die Spaanse owerhede in die destydse Neder­lande (vandag: Nederland en België) die Protestante* wreed vervolg het. Sy bedoe­ling met die uitgee van sy geloofsbelydenis was om aan die vyandige owerhede te verduidelik wat die gereformeerdes*, in onderskeiding van die Katolieke* en die Weder­dopers* respektiewelik, presies geglo het. In 1567 moes hy sy belydenis met sy lewe beseël, toe hy die galgdood vir sy geloof ge­sterf het.

De Brès het in Genève, Switserland, onder andere by Johannes Calvyn* teologie* gestudeer. Hy het ook gebruik gemaak van die Franse Geloofsbelydenis (in 1559 deur Calvyn opgestel). Daarom is daar sterk ooreenkomste tussen Calvyn se benadering en die Nederlandse Geloofsbelydenis – wat vorm sowel as inhoud betref. Die indeling is “trinitaries-histories”, dit wil sê aan die hand van die werk van die Vader*, Seun* en Heilige Gees* en volgens die openbaringsgeskiedenis van skepping* en sondeval* (Ge­nesis*) deur verlossing (die Evangelies*) tot by die laaste oordeel (Openbaring*). Die Neder­landse Geloofsbelydenis, een van die drie Formuliere van Eenheid*, begin met ’n breë uiteensetting van die maniere waarop God Hom openbaar, met beklemtoning van die oorsprong, gesag, duidelikheid en genoeg­saamheid van die Heilige Skrif* (Artikel 2-7). Ander kenmerkende aksente van die Nederlandse Geloofsbelydenis is onder meer die pragtige Artikel 26 oor Christus* ons enigste Voorspraak, Artikel 27-32 oor allerlei aspekte van die kerk*, en Artikel 36 oor die taak van die burgerlike owerheid. Dié artikel, duidelik geïnspireer deur Calvyn se Geneefse ideaal van ’n teokrasie* – waar God se regering onomwonde aanvaar en ook in staatsinstellings weerspieël word – is in moderne demokrasieë wat deur religieuse pluralisme gekenmerk word, erg problematies.

 

Sidebar