NEE, WATCHMAN

NEE, WATCHMAN (1903–1972), of Nee To-sheng soos hy in China* bekend is, het sy lewe in 1920 aan Christus* gewy. Vroeg in sy lewe het hy vir homself die volgende doelwitte gestel: een derde van sy inkomste gaan vir sy persoonlike behoeftes, een derde vir die versorging van ander, en een derde vir boeke. Hy het geweldig baie gelees. Marga­ret Barber, ’n sendeling*, se vriendskap en Hudson Taylor* se biografie het die grootste invloed op Nee se lewe uitgeoefen. In 1922 ontstaan ’n herlewing in Nee se tuisdorp. Wanneer hulle nie met studie besig was nie, het hy groepe van 60 tot 80 jong mans georganiseer wat op evangelisa­sie*-uitreike gegaan het. In ’n stadium het Nee tuberkulose ontwikkel. Sy dokters het geen hoop vir hom gehad nie en gereken dat hy nog net drie of vier dae sou lewe. Gedurende die volgende vier maande skryf hy sy groot werk van vier dele, The Spiritual Man. In Mei 1928 verhuis hy na Shanghai om sy bediening daar voort te sit. Kort daarna skryf hy The Normal Christian Life. In 1937 was daar 128 voltydse “apostels” in die veld besig met evangelisering, kerkplanting en die versorging van jong bekeerlinge. Hy skryf en vertaal Rethinking the Work as God se riglyne vir lewende gemeentes*.

In 1939, terwyl Japan en China in ’n he­wige stryd gewikkel was, breek die Tweede Wêreldoorlog* in Europa uit. Nee, wat in Europa was, bereik sy tuisstad veilig met ’n bootrit na Bombaai en daarvandaan na Shanghai.

Nee se doelwit vir gemeentelede was: Getuig teenoor ten minste een persoon per dag. Die Little Flock-beweging het in dié tyd meer as 70 000 lede in 700 gemeentes gehad. In 1947 verhewig die stryd teen die Chinese Kommunistiese Party en word besluit op ’n beleid van “evangelism by migration” om China vir Christus te wen. In 1949 val die Kommuniste Shanghai binne en op Nuwejaarsdag 1951 lewer Nee een van sy laaste boodskappe wat geboekstaaf is. In April word Nee en duisende ander op “Swart Saterdag” in Shanghai gearresteer. Gedurende die volgende twintig jaar is hy aan erge lyding in die gevangenis onderwerp. Hy sterf in aanhouding. (Kyk ook: China en die Christelike geloof.)

Vir verdere lees: Bob Laurent 1998. Watchman Nee: Man of Suffering.

 

Sidebar