NEERDALING TER HELLE

NEERDALING TER HELLE. Die leer van Christus* se neerdaling “ter helle” (descensus ad inferos) kom dikwels in die vroeë Christelike belydenisse* voor, maar selde in die Nuwe Testament*. Veral twee Skrif*gedeeltes het betrekking, maar in beide gevalle gaan dit eerder oor Christus se proklamasie van sy oorwinning as ’n letterlike neerdaling na die hel* – soos dit later in die kerk* verstaan is: 1 Pet 3:19: Ná Christus se lyding proklameer Hy “in die gees” (pneumati) sy oorwinning vir die gees­te in die gevangenis. Daar is geglo dat die hemelwesens van Noag* se tyd (Gen 6:1-2) weens hulle verkeerde optrede gevange gehou is (2 Pet 2:4; Judas 6); 1 Pet 4:6: Die goeie nuus is verkondig aan dié wat nou dood is, naamlik dat hulle in God se ewige lewe sal deel. Hand 2:27 en Rom 10:7 is moontlik indirekte verwysings.

Die Apostoliese Geloofsbelydenis* bevat hierdie Latynse frase, en dit word in die Afrikaans* met “ter helle neergedaal” weer­ge­gee om deur die argaïese “ter helle” die “on-eintlikheid” daarvan aan te dui. Dit word naamlik deur gereformeerdes* eerder verstaan dat Christus aan die kruis* helse smarte ervaar het – Hy was van God verlaat (Matt 27:46), die essensie van wat die hel is – as dat Hy ná sy dood na die hel gegaan het. (Sien Heidelbergse Kategismus*, Vraag 44.) In die Geloofsbelydenis van Nisea* ontbreek die frase, waarskynlik omdat “hel” verstaan is as “graf”. Volgens die Geloofsbe­ly­denis van Atanasius* en die Katolieke Kerk* se standpunt, het Christus wel letterlik ná sy dood na die hel gegaan. Die bete­kenis van die descensus is egter belangriker as die kronologie. Dit kan verstaan word as deel van Christus, wat Here* is van hel én hemel*, se oorwinning (Op 1:18; Fil 2:10).

 

Sidebar