NEETHLING, JOHANNES HENOCH

NEETHLING, JOHANNES HENOCH (1826–1904) het sy skoolloopbaan by Tot Nut van ’t Algemeen* in Kaapstad begin. Hy doen sy teologiese studie aan die Universiteit van Utrecht en word in 1850 predikant* van Prins Albert en daarna van Stellenbosch (1858). In 1866 beywer hy hom vir die stigting van die Gimnasium op Stellenbosch en vir die Victoria-kollege (voorloper van die Universiteit van Stellenbosch). Hy was van 1866 tot 1904 die Gimnasium se sekretaris. En in 1874 neem hy die voortou met die totstandkoming van die Girls’ Public School (vandag Hoër Meisieskool Bloemhof) op die patroon van die inrig­tings waarmee Andrew Murray*2 op Wel­ling­ton begin het. In 1882 het Neethling voor die Stellenbosse munisipaliteit verskyn om te betoog vir ’n sportveld vir die ver­skillende inrigtings (Coetzenburg), na­dat rugby en krieket tot in daardie stadium op die Braak gespeel is.

Neethling was in 1860 saam met proff John Murray* en NJ Hofmeyr* die organi­seerders van die konferensie op Worcester wat die geestelike herlewing van daardie jare ingelui het. Neethling se grootste bydrae lê egter op die gebied van die sen­ding* waarvoor hy hom onvermoeid bey­wer het vandat hy lid van die eerste sen­dingkommissie van die Kaapse Kerk geword het – en vir die volgende 35 jaar. In 1890 was hy assessor (ondervoorsitter) van die Kaapse sinode*.

In Neethling se tyd is die kruiskerkgebou van Stellenbosch van 1723 aansienlik ver­groot tot die neo-gotiese kerkgebou wat vandag nog gebruik word. In hierdie tyd is ook die nuwe kansel wat deur Hager* ontwerp is, in gebruik geneem. Een van die akademiese geboue op Stellenbosch is na Neethling vernoem.

Sidebar