NEETHLING, MARIA

NEETHLING, MARIA (1831–1912), oudste dogter van ds Andrew Murray*1, was getroud met ds JH Neethling* van Stellen­bosch en was die ma van twaalf kinders. Haar skrywersloopbaan het in 1859 begin met die behartiging van die kinderrubriek in De Wekker, waarvan haar man redakteur was. Van Neethling se eie gedigte het ook in De Wekker verskyn. Haar eerste boek was ’n biografie oor haar seun, Willie, ná sy skielike dood in die sendingveld, Made Exceedingly Glad, na aanleiding van Ps 21:6. Dit is ook in Frans vertaal en het in uitgebreide vorm in Nederlands verskyn. Verskeie ander publikasies het gevolg, meer­male gepubliseer deur Engelse en Ne­derlandse uitgewers.

Maria Neethling se werk toon ’n sterk op­voed­kundige en godsdienstige inslag. Haar veelsydigheid blyk uit al die genres wat sy beoefen het: die biografie, genealogie, kinderlektuur, stigtelike verhale, gedig­te, vertalings en consolatio-literatuur. Sy het dit alles vermag sonder dat sy enige for­mele opleiding in die letterkunde gehad het en in ’n era waar die emansipasie van die vrou en intellektuele bedrywighede soos dié van Neethling grootliks as onbelangrik beskou is.

Vir verdere lees: P van Beek 2000. “Maria (Murray) Neethling (1831–1912): Een vergeten vrouwenschrijver uit Zuid-Afrika” in: Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 7de Jaargang, 2000.

Sidebar