NEETHLING-POHL, ANNA SERVA­SI­NA

NEETHLING-POHL, ANNA SERVA­SI­NA (1906–1993) is op Oukersaand op Graaff-Reinet gebore. Haar pa het vroeg al by haar ’n liefde vir Afrikaans* en poësie en toneel laat posvat. Sy was goed bewus van en allengs ’n deelnemer aan die “volkstryd” en die “taalstryd”. Sy het op Stellenbosch studeer, later klas gegee op Graaff-Reinet en Bloemfontein, 21 jaar by die SAUK gewerk, dikwels beroeps- en amateurtoneel gespeel – saam met die legendariese Hanekoms, André Huguenet, Paul de Groot – en talle volksfeeste help organiseer en ’n sleutelrol daarin gespeel: by die inwyding van die Voor­trek­ker­monument, die Van Riebeeck­fees, die viering van “Die Wonder van Afrikaans”, die Republiekfees, in die laat 1940’s, 1950’s, vroeë 1960’s. Sy het met haar poësie-voordragprogramme die Afrikaanse digkuns tot by janalleman gebring en daarvoor ’n liefde en waardering gekweek. Sy was die skoonsuster van NP van Wyk Louw* en het hom en sy broer, WEG Louw*, met haar drif en entoesiasme in hulle digkuns aangespoor – en met haar voordragte klank aan hulle digterswoorde gegee. Sy was die baanbreker van die dra­ma-departement aan die Universiteit van Pretoria. Onder die skuilnaam AP Niehaus het sy ook ’n paar romans geskryf. Oor haar geloof was sy uitgesproke. “Iemand wat in die Karoo grootgeword het, kan eintlik nie anders as om te glo nie,” het sy laat in haar lewe in ’n radioprogram gesê. “Daar waar die wêreld so oop is en die hemel so wyd, daar glo ’n mens in jou Skepper. En ek glo in Jesus Christus wat op Kersfees mens geword het, geleef het, gely het, gesterf het, en opge­staan het. En my persoonlike Verlosser is.”

 

Sidebar