NEILL, STEPHEN CHARLES

NEILL, STEPHEN CHARLES (1900–1984) tel onder die mees produktiewe Engelse sending*wetenskaplikes en kerkhistorici (Kyk by: Kerkgeskiedenis) van die 20ste eeu. As Anglikaanse* sendeling* het hy in 1924 na Indië vertrek waar hy 21 jaar lank gewerk het (1939–1945 as biskop* van Tinnevelly). Hy was betrokke by die totstandkoming van die Kerk van Suid-Indië toe Anglikaanse*, Metodiste-* en Presbiteri­aan­se* gemeentes verenig het. Van 1948–1951 het hy as assistent-sekretaris-generaal van die Wêreldraad van Kerke (WRK)* – saam met die sekretaris-generaal W-A Visser ’t Hoofd* – veel gedoen om die eku­me­niese* beweging ná die Tweede Wêreld­oorlog* te versterk. Talle verklarings wat deur die WRK gemaak is en dokumente wat deur dié organisasie uitgereik is, was van sy hand. In 1962 het Neill Walter Frey­tag* as hoogleraar in sendingwetenskap* in Hamburg opgevolg. Ná sy vertrek uit Hamburg het Neill uitgebreide wêreldreise onderneem om jong kerke te ondersteun. Hy was baie lief vir Afrika*. In Nairobi het hy met die opleiding van inheemse leraars gehelp. In Suid-Afrika het hy talle konferensies en werkwinkels toegespreek. Ten spyte van ernstige kritiek op die apartheids­teo­logie* én die Afrikaanse kerke se destydse verdediging van die beleid van apartheid*, het hy ’n warm belangstelling in kerklike en teologiese ontwikkelings in Suid-Afrika, ook in die Afrikaanse kerke, getoon. Hy het baie geskryf: oor die ge­skiedenis van die sending, die ekumeniese* beweging, oor die rol van die jonger kerke, sowel as oor die groot probleme waarmee die kerk* en sen­ding in die tweede helfte van die 20ste eeu te maak gehad het. Onder sy belangrikste werke tel The Unfinished Task (1957), Creative Tension (1959), Chris­tian Faith and Other Faiths (1961), A History of Christian Mission (1964) en Colonialism and Chris­tian Mission (1968).

Sidebar