NEO-ORTODOKSIE

NEO-ORTODOKSIE is ’n term wat algaande in die 20ste eeu gebruiklik geword het om ’n Protestantse* teologiese beweging te beskryf wat ná die Eerste Wêreldoorlog* (1914-1918) in die Duitstalige teologiese wêreld ontstaan het en veral gedurende die 1930’s tot die 1960’s ’n betekenisvolle invloed in die kerk* en teologie* gehad het. Die teoloë Karl Barth* en Emil Brunner* word meestal as die inisiatiefnemers van hierdie beweging beskou. Die beweging het mettertyd na die Skandinawiese lande uitgebrei waar teoloë soos Gustav Aulen en Anders Nygren as verteenwoordigers daarvan beskou is, asook na die VSA waar onder andere Paul Tillich* en die broers Richard en Reinhold Niebuhr* daarmee in verband gebring is.

Die “Neo”-deel van die benaming Neo-Ortodoksie dui daarop dat dit daarin om ’n vernuwingsbeweging gegaan het waarin basiese oortuigings wat eie was aan die Reformasie/Hervorming* van die 16de eeu, maar wat gedurende die ontwikkeling van die Liberale Teologie* in die 18de en 19de eeue op die agtergrond geraak het, opnuut weer tot gelding gekom het. In die Liberale Teologie was sowel die godsdiens* in die algemeen as die Christendom* in die besonder hoofsaaklik as ’n binnewêreldse verskynsel gesien wat uitsluitlik in menslike terme beskryf moes word. God is nie as ’n transendente werklikheid (Kyk by: Transendensie van God) bo en buite die menslike bestaan gesien nie, maar as ’n dimensie daarvan. Die teologie het antropologie* geword. Die misplaaste vertroue van mense in hulleself wat met hierdie soort denke gepaard gaan, is deur die katastrofe van die Eerste Wêreldoorlog vernietig. Dit lei daartoe dat teenoor die optimistiese mensbeskouing van die Liberale Teologie daar weer ruimte kom vir die insig dat die mens sondaar* is en behoefte het aan verlossing* wat slegs deur die transendente God voorsien kan word en met name deur ’n verlosser* wat méér as net ’n mens is. Langs hierdie weg vind daar dus ’n heropname in kerk en teologie plaas van die oud-kerklike en Reformatiese leer oor die drie-eenheid* van God en die twee nature van Christus*.

Hoewel daar vir ongeveer vier dekades ’n kragtige invloed van individuele verteenwoordigers van hierdie beweging op kerk en teologie uitgegaan het, is die term “Neo-Ortodoksie” as oorkoepelende uitdrukking tog van beperkte betekenis aangesien daar nooit werklik algehele ooreenstemming van opvatting tussen die verteenwoordigers daarvan bestaan het nie. Dit het in die 1930’s reeds geblyk toe Karl Barth in Duitsland te midde van die dreigende Nazi*-gevaar geoordeel het dat ’n reaksie op die Liberale Teologie uitsluitlik ’n openbaringsteologie, gebaseer op die Woordopenbaring, vereis, terwyl Emil Brunner in die rustiger Switserland van mening was dat daar tog in toevoeging daartoe ook in ’n mate ruimte was vir ’n natuurlike teologie wat van die skeppingsopenbaring uitgaan. Die heropname van kernoortuigings uit die Reformasietyd het dus nie as ’n werktuiglike herhaling daarvan geskied nie, maar as herinterpretasie daaarvan in totaal veranderde verstaanskontekste. En waar die verteenwoordigers van die Neo-Ortodoksie meestal ook ten opsigte van mekaar in verskillende omstandighede gewerk het, het elkeen sy unieke aksent vertoon.

Die uitdrukking “Neo-Ortodoksie” is dus in sigself van ’n baie algemene aard sodat dit op verskillende maniere gevul kan word. Dit lei daartoe dat hierdie term ’n betreklik beperkte bruikbaarheid het. Die gevolg daarvan was dat ’n teoloog soos Karl Barth self nie ten gunste van die gebruik daarvan was om die vernuwingsbeweging waarvan hier sprake is, te beskryf nie (Kirkliche Dogmatik, 3/3, bl vii).

 

Sidebar