NESTORIUS

NESTORIUS (circa 381–451) word opgelei in die skool van Antiogië. ’n Jaar nadat hy biskop* van Konstantinopel word (in 428 nC), bars daar ’n storm om sy kop los omdat hy nie die titel Theotokos* (“die een wat geboorte gegee het aan God”) vir Maria*1 wou aanvaar nie. Omdat hy geglo het dat Christus* se twee nature, sy Godde­like en sy menslike, apart gebly het, kon Maria volgens Nestorius nie aan God ge­boorte gegee het nie, maar aan Christus. Hy het dus die titel Christotokos vir Maria voorgestel.

Sy groot teenstander was Kurillos*, die biskop van Aleksandrië, en in ’n sin is hulle twis verteenwoordigend van die stryd tus­sen die Antiogeense skool (met hulle historiese interpretasies) en die Aleksandrynse skool (met hulle allegoriese interpretasies). In 431 nC veroordeel die Ekumeniese Sino­de van Efese vir Nestorius as ’n ketter*, ’n si­node* wat onder voorsitterskap van Kurillos* plaasgevind het. Keiser Teodotius II verban Nestorius na sy klooster* in Antiogië, en gee opdrag dat sy werke verbrand word.

Nestorius leef 20 jaar in ballingskap voor­dat hy sterf. Dit was moeilike tye vir hom, en geeneen van sy werke het behoue gebly nie, behalwe ’n Siriese vertaling van ’n boek wat hy oor sy eie lewe geskryf het, die Basaar van Heriklides, wat in 1895 ontdek is. Hierin lê hy die bitterheid en die onregverdigheid van sy stryd met Kurillos bloot.

Sidebar