NEUTRALITEIT

NEUTRALITEIT. Hoewel die menslike lewe genormeerd is en derhalwe in alle geledinge voor die keuse geplaas word om norm-gehoorsaam of beginsel-strydig op te tree, het die moderne mens-gesentreerde lewensoriëntasie onder die dekmantel van neutraliteit ’n poging pro­beer aanwend om die lewensomvattende appèl van diens aan God te ontwortel.

Onder meer is lewensgeledinge soos die wetenskap en politiek dan veronderstel om neutraal te wees.

Onpartydigheid staan egter teenoor neutraliteit, want daarin is nog steeds ’n normatiewe eis vervat wat gehoorsaam of oor­tree kan word. Hierdie eis geld in die besonder vir regsge­skille – die regter in ’n saak is veronderstel om nie kant te kies nie en om altyd ook die ander kant van die saak aan te hoor.

Die neutraliteitsidee in die wetenskap is ewe onhoudbaar, want die geskiedenis van letterlik elke wetenskaplike dissipline weerspieël uiteenlopende vakkundige standpunte en stromings, selfs die wiskunde en die fisika nie uitgesluit nie. Dink slegs aan die intuïsionistiese wiskunde wat vakinhoudelik op gespanne voet staan met die formalistiese wiskunde, aan die determi­nisme (Planck, Einstein*) en indeterminisme (Heisenberg, Bohr) in die fisika, aan standpunte soos die neo-Darwinisme, vitalisme, holisme, pan-psigisme, emergensie-evolusionisme en organismiese skool in die bio­logie en aan uiteenlopende en wederkerig-uitsluitende denkskole letterlik in elke geesteswetenskap.

Sidebar