NEWBIGIN, JAMES EDWARD LESS­LIE

NEWBIGIN, JAMES EDWARD LESS­LIE (1909–1998) begin sy loopbaan as ’n sendeling* van die Kerk van Skotland in Suid-Indië in 1936. In 1947 word hy ’n biskop* in die Kerk van Suid-Indië, ’n titel wat hy ten spyte van sy presbiteriaanse* inslag lewenslank sou dra. Hy dien in Indië tot sy aftrede in 1974.

In 1958 word hy algemene sekretaris van die Internasionale Sendingraad*. Wanneer dié liggaam in 1961 in die Wêreldraad van Kerke (WRK)* opgeneem word, word hy ’n adjunk-algemene sekretaris van die WRK.

Ná sy aftrede vestig hy en sy eggenote hulle in Birmingham (Engeland) en begin hy met die tweede deel van sy loopbaan: as teoloog*, dosent en pastor. Een van die vrae waarmee hy hom in dié tyd besig hou, is in watter mate die Westerse samelewing en kul­tuur nog deur die evangelie* en evangeliese waardes* beïnvloed kan word.

Een van sy merkwaardige publikasies is in Julie 1997 tydens die laaste Bybelskool wat Newbigin in die Holy Trinity-kerk in Brompton sou hou, gebore. Hy het in die bestek van twee oggende – en sonder enige notas – die hele deurlopende storie van die Bybel* vertel. Die gehoor het dit beleef asof hy sy hele lewe en leringe saamgevat het in daardie weergawe van die Groot Storie.

Vir verdere lees: Lesslie Newbigin 2002. God se verhaal in ’n neutedop. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar