NEWTON, ISAAC

NEWTON, ISAAC (1642–1727). Kenners is dit eens dat Newton die grootste wetenskaplike vóór Einstein* was en dat sy baanbrekerswerk ten opsigte van die metodiek van die eksperimentele wetenskap vandag nog steeds rigtinggewend is.

Newton studeer te Cambridge en hy was aldaar professor in wiskunde en fisika (1669–1699). Daarna was hy tot en met sy dood meester van die koninklike munt in Londen. Hy word in 1705 tot ridder geslaan, onder andere as gevolg van sy stryd om Cambridge Protestants* te hou.

Sy bekendste twee werke is Principia Mathematica (1687) en Opticks (1704). In die eerste sit hy die wiskundige wette van die meganika, swaartekrag, die beweging van hemelliggame en die beweging van vloei­stowwe uiteen. In die tweede beskryf hy die wiskunde agter ligrefraksie. Hy is ook die uitvinder van die reflektor-teleskoop.

Alhoewel Newton baie godsdienstig was en groot respek vir die Bybel* gehad het (hy het onder andere ’n boek oor Bybelse profesieë geskryf en ook probeer om die Bybelgeskiedenis en die Griekse mitologie te sinchroniseer), het hy die leer van die Drie-eenheid* en Christus* se Goddelike natuur as ’n dwaling verwerp.

Sidebar