NEWTON, JOHN

NEWTON, JOHN (1725–1807), is veral bekend as die skrywer van die gewilde “Amazing Grace” (Genade, onbeskryflik groot, Lied 510 in die Liedboek van die kerk*).

Sy ma sterf toe hy 7 jaar oud is. Ná onge­veer twee jaar se skoolopleiding vergesel hy sy pa, ’n skeepskaptein, op dié se reise. In 1744 word hy adelbors in die vloot. Hy dros, word gevang, gegésel en tot seeman verlaag. Op sy eie versoek word hy na ’n slaweskip oorgeplaas. In Afrika* word hy self die slaaf van ’n slawehandelaar totdat ’n vriend van sy pa hom red.

Op 23 word hy kaptein van ’n slaweskip. Tydens ’n hewige storm op 10 Mei 1748 – en toe almal gedink het dat dit hulle einde is – onthou hy van die Bybelverse wat sy ma hom geleer het toe hy nog klein was. Hy kom tot bekering* en begin met ’n studie van die Bybel* en antieke tale.

Hy kry ’n pos in Liverpool se hawe in 1755, sit sy studie voort en gaan luister na preke van George Whitefield* en John Wes­ley*. In 1764 word hy priester*2 in die Angli­kaanse Kerk* en gaan na die gemeente Ol­ney in Buckinghamshire. Hy maak vriende met die digter William Cowper en hulle dig ’n groot aantal geestelike liedere wat in 1779 as die Olney Hymns uitgegee word. Een van sy ander bekende liedere is “Hoe heerlik is die Jesus-naam” (Lied 264 in Lied­boek van die kerk). Daarna word hy leraar van ’n gemeente in Londen tot sy dood.

 

Sidebar