NICOL, WILLEM

NICOL, WILLEM (1945–), seun van dr Wil­liam Nicol*, studeer teologie aan die Universiteit van Pretoria en behaal sy doktorsgraad met hoofvak Nuwe Testament* te Kampen en ’n tweede doktorsgraad met hoofvak etiek* te  Stellenbosch. Nicol was sy hele bediening studenteleraar: vanaf 1972 by Harmonie (Pretoria) en vanaf 1976 by Universiteitsoord (Pretoria). Hy het nie geskroom om sy stem te laat hoor téén die ondersteuning van apartheid* deur die Afrikaanse kerke nie. Met sy deelname aan Reforum en die “Ope Brief”* van 1982 beywer hy hom onder meer vir sinvolle kontak en gesprek tussen gelowiges van verskillende rasse. Dit het hom baie onregverdige kritiek op die hals gehaal en daartoe bygedra dat hy nie na ’n teologiese fakulteit beroep is nie. Hy was ook mede-redakteur van Perspektief op die Ope Brief.

Aan die einde van die 1980’s skryf hy boeke soos Stem in die stilte en Naby Jesus oor persoonlike spiritualiteit, waarin hy die waarde van stil-word-met-die-Here aandui. Hy bied retraites* oor geestelike dissipline aan. Later volg boeke soos Rykdom in eenvoud, Gebed van die hart en ’n Dieper dors. Nicol is ’n selfstandige Christen-denker wat sy  sieninge helder oordra en sy lesers op ’n besondere wyse aanspreek.

Sidebar