NICOL, WILLIAM

NICOL, WILLIAM (1887–1967) is op Ro­bertson gebore as seun van ’n Skotse on­derwyser, Matthew, en ’n Afrikaans­spre­kende ma, Maria Klopper. Nadat hy sy BA op Stellenbosch verwerf het, het hy sy studie in Amsterdam en Princeton voortgesit en in 1912 sy BD behaal.

Nicol het in 1913 ’n beroep na die NG Gemeente Johannesburg-Oos (later Irene) aanvaar waar hy vir die volgende 25 jaar (tot 1938) werksaam was. Hy het daar ge­kom in die taai jare ná die ontdekking van die hoofgoudrif aan die Witwatersrand. Dit het ’n migrasie van tienduisende hoofsaaklik werklose en grondlose armblankes en swart trekarbeiders na die myne meegebring. Afrikaners* en Afrikane* was die prooi van sosiale euwels soos sedeloosheid en drankmisbruik. Nicol het, benewens sy pligte as gemeentepredikant, ’n leiersrol ge­speel ten opsigte van die sending*, opvoeding, armoedeverligting en die bekamping van euwels soos alkoholisme. Hy is as voorsitter gekies van die deurslaggewende “VoIks­kongres” van 1934 in Kimberley wat onder meer tot die totstandkoming van die staatsdepartement van Volkswelsyn gelei het. Nicol was ten gunste van moedertaalskole vir verstedelikte Afrikaners en dit het in 1921 gelei tot die opening van die Hoërskool Helpmekaar. Hy het ook ’n prominente aandeel gehad in die totstandkoming van die teologiese fakulteit (NG Kerk*) aan die Universiteit van Pretoria in 1937. In breër kerklike konteks is Nicol in 1916 as aktuarius* en later as assessor (ondervoorsitter) en moderator* (lg van 1934 tot 1948) van die destydse Sinode van Transvaal gekies.

Na Nicol se uittrede as lereaar – hy was toe die predikant van Pretoria-Oos – is hy deur die Nasionale Party benoem as administrateur van die destydse Transvaal (1948–1958). Nicol, wat twee eredoktorsgrade ontvang het, het ook verskeie boeke gepubliseer, waaronder Reënboog oor my jeug (1956) en Met toga en troffel (1958). Hy is die vader van Willem Nicol*.

Sidebar