NIEBUHR, HELMUT RICHARD (RICHARD)

NIEBUHR, HELMUT RICHARD (RICHARD) (1894–1962), was ’n Noord-Amerikaanse teoloog, broer van Reinhold Niebuhr* en professor in Christelike etiek* aan die Yale Divinity School, waar hy van 1938 tot met sy dood gedoseer het. Sy teologie* is beïnvloed deur Ernst Troeltsch en Max Weber*. Hy het Christelike denominasies as sosiologiese groepering ontleed en geargumenteer dat leerstellige verskille nie net ’n produk van sosiale omstandighede is nie, maar dit ook help vorm. As deel van die linkervleuel van die Amerikaanse neo-ortodokse skool, was hy krities teenoor die “social gospel”-beweging (Kyk by: Sosiale evangelie) wat volgens hom op onrealistiese wyse die etiek van die evan­gelie* probeer herstel het.

Alhoewel hy die belangrikheid van historiese openbaring* beklemtoon het en dit juis gesien het as toegang tot die Absolute, het hy nie die verstaan van die Christelike leer as absoluut gesien nie. Daarom laat hy ruimte vir ander godsdienstige benaderings om God te vind. Hy het ’n radikale monoteïsme* verkondig.

Sy belangrikste bydrae was sy poging om die Christelike geloof* en sekere sake wat verband hou met die moderne wêreld, te integreer op sosiale, politieke, etiese en al­ge­meen-godsdienstige terreine.

Sy werke sluit in The Meaning of Reve­lation (1941), Christ and Culture (1951) en Radical Monotheism and Western Civili­sation (1960).

Vir verdere lees: A McGrath (red) 1993. The Blackwell Encyclopedia of Modern Chris­­tian Thought. Massachusetts: Black­well.

Sidebar