NIEBUHR, KARL PAUL REINHOLD (REINHOLD)

NIEBUHR, KARL PAUL REINHOLD (REINHOLD) (1892–1971), broer van Richard Niebuhr*, was ’n Noord-Ameri­kaan­se presbiteriaanse* predikant*, teoloog en politieke filosoof wat aan Yale studeer het en die seun van ’n Lutherse* dominee was. Hy het sy bediening in 1915 in Detroit begin en het in 1928 na die Union Theo­logical Seminary in New York geskuif waar hy professor van toegepaste teologie was tot 1960. Sy denke is deur Karl Barth* en Emil Brunner* beïnvloed. Hy was ontnug­ter deur die progressiewe moderne in­dus­triële metodes in Detroit. Dit het daartoe aanleiding gegee dat hy die optimis­tiese oortuiging in ’n groeiende mens­like goedheid, wat vroeër deel van sy liberale teologie* was, laat vaar het. Hy het hierna ’n teo­logie ontwikkel wat op sosiale en politieke terreine rekening gehou het met die leerstelling van die oersonde (Kyk by: Erfsonde). Politiek eer­der as etiek moet volgens hom ’n samele­wing re­gu­leer.

Hy het hom in ’n stadium met die Mar­x­is­me* geïdentifiseer, maar het hom later daarvan gedistansieer. Sy talle boeke sluit in Does Civilisation Need Religion? (1927), Moral Man and Immoral Society (1932), The Nature and Destiny of Man (1941, 1943) en Christian Realism and Social Problems (1953). Hy was die stigter van die joernaal Christianity and Crisis in 1941.

Vir verdere lees: A McGrath (red) 1993. The Blackwell Encyclopedia of Modern Christian Thought. Blackwell: Massachu­setts.

Sidebar