NIEMÖLLER, MARTIN

NIEMÖLLER, MARTIN (1892–1984) leer van kindsbeen af wat sosiale geregtigheid is toe sy pa betrokke raak by die slagoffers van industrialisering. As jongman sluit Niemöller by die vloot aan. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog* is hy die bevelvoerder van ’n duikboot. Ná die oorlog studeer hy vir pastor en word in 1924 georden. Eers werk hy vir ’n godsdiens­tige organisasie wat hulle vir sosiale ge­regtigheid beywer (Innerlike Sending), en hy word in 1931 pastor in Berlyn-Dahlem. Daar kom hy in konflik met die Duitse Christene wat pro-Nazi is en die Lutherse Kerk* vir die saak van die nasionaal-sosialisme* wil kaap. Hy neem deel aan die vorming van die Belydende Kerk wat hulle teen die Ariese en rassistiese dogmas van die Nazi’s verset het. Hierin skaar hy hom by die bekende Dietrich Bonhoeffer*.

In 1937 word Niemöller gearresteer maar deur ’n hof in Berlyn vrygespreek. Hitler* laat hom egter as sy persoonlike prisonier vir agt jaar aanhou in konsentrasiekampe, eers in Sachsenhausen (1937–1941) en toe in Dachau (1941–1945). Ná die oorlog raak Niemöller in die stryd vir ontwapening en teen kernwapens betrokke. Hy word ook president van die Evangeliese Kerk se Eksterne Betrekkings (1945–1956) en president van die Evangeliese Kerk in Hesse en Nassau (1947–1964). Niemöller was een van die presidente van die Wêreldraad van Kerke* (1961–1968). Sy bekendste boek is Van U-boot tot kansel (1936).

Sidebar