NIETZSCHE, FRIEDRICH WILHELM

NIETZSCHE, FRIEDRICH WILHELM (1844–1900) is gebore van predikantouers in Röcken, Duitsland, en studeer aanvanklik teologie*, maar slaan gou as gevolg van sy weersin in die Christendom* oor na klas­sieke filologie. Nog voordat hy sy doktorsgraad voltooi het, is hy op die verstommend jeugdige ouderdom van 24 as professor in klassieke filologie aan die Switserse Universiteit van Basel aangestel. Hy kon slegs twee dekades van produktiewe akade­miese werk lewer voordat hy in Januarie 1889 verstandelik en fisiek ineengestort het en daarna nooit herstel het nie. Sy eie akademiese ontwikkeling is grootliks beïnvloed deur die Duitse anti-hegeliaanse filosoof Arthur Schopenhauer se pessimis­me en nihilisme* (“blinde-lewensdrif”), en sy verhouding met die komponis Richard Wagner. Die kritiese worsteling met die Europese intellektuele en kultuurkrisis verwoord hy as die “dood van God”, die “su­per­mens” en die advent van “nihilisme”. Tra­di­sionele religieuse en metafisiese denk­wyses was aan die kwyn wat ’n leegte ge­laat het wat moderne wetenskap nie kon vul nie, en waardeur die welwese van die moderne beskawing bedreig is. Hierdie leegheid het hy betree in die verkondiging van ’n nuwe lewensideaal wat ’n herkonseptualisering van waarheid, kennis en waardes ingesluit het en wat neerslag gevind het in van sy bekendste werke soos Unzeitgemässe Betrachtungen (1873–1876); Die fröhliche Wissenschaft (1882); Jenseits von Gut und Böse (1886); Zur Genealogie der Moral (1887); Der Antichrist (1895); Also sprach Zarathustra (1883–5) en die postume publikasies Der Wille zur Macht (1901) en Ecce Homo (1908).

Sidebar