NIHILISME

NIHILISME is afgelei van die Latynse woord nihil (niks), en vind as term sy oorsprong by die Russiese skrywer Iwan Turgenev in sy roman Vaders en seuns (1862). Hy gebruik dit as aanduiding van ’n negatiewe houding teenoor tradisie en gesag, veral op politieke en maatskaplike gebied, maar ook teenoor sedelike norme en maatstawwe. In Europa asook in Amerika het hierdie term spoedig die betekenis verkry van die ontkenning van alle sin en waarde van die menslike bestaan en geskiedenis. So bv het die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche* nihi­lis­me gesien as een van die kenmerke van die ontwikkeling van Europese kultuur, veral van metafisika. Hy verwoord hierteenoor ’n aktiewe nihilisme van ’n nuwe menslike lewensideaal van die “supermens” ten aansien van die dood van God en die verwerping van tradisionele lewenswaardes – veral Christelike waardes – ten einde die mens van sy/haar slawementaliteit te verlos. Met eie beklemtonings vind ons die term ook in die werke van FH Jacobi en Jean-Paul Sartre*. Reeds gou het die term die betekenis begin dra van enige standpuntinname wat ingeburgerde oortuigings teenstaan of ontken, soos bv die bestaan van God, onsterflikheid van die siel, vryheid van die wil, gesag van die rede, die moontlikheid van kennis, objektiwiteit van waar­des en die sin van geskiedenis.

Vir verdere lees: DP Goosen 2007. Die nihilisme: Notas oor ons tyd. Johannesburg: Praag.

Sidebar