NIKODEMUS

NIKODEMUS se naam kom slegs in die Johannes*-Evangelie voor. Hy is ’n Fariseër* en een van die leiers van die Jode*, dus ’n lid van die Sanhedrin*. In Joh 3 lees ons dat hy in die nag na Jesus* gegaan het om meer te wete te kom van sy optrede en leer – blykbaar in die geheim om nie sy posisie as lid van die Sanhedrin in gevaar te stel nie. Alhoewel hy Jesus in die nag opgesoek het, kom hy tog voor as ’n opregte mens en ernstige soeker. Dit blyk ook uit Joh 7:50 waar hy vir Jesus in die bres tree en daarvoor pleit dat Jesus nie veroordeel kan word sonder ’n regverdige kans om sy eie saak te stel nie, en uit Joh 19:39 waar hy deelneem aan die balseming van die liggaam van Jesus nadat dit van die kruis afgehaal is deur Josef* van Arimatea. In die Bybel* lees ons verder niks oor hom nie, maar daar bestaan ’n aantal buitebybelse legendes oor hom, asook ’n apokriewe* Evangelie van Nikodemus.

Sidebar