NILES, DANIEL THAMBIRAJA

NILES, DANIEL THAMBIRAJA (1918–1970) was een van die invloedryke ekumeniese* leiers in die dekades net ná die totstandkoming van die Wêreldraad van Kerke (WRK)* in 1948. Hy is in Sri Lanka gebore, in Tellippali, in ’n familie wat reeds vir drie geslagte Christene was. As jongman het DT (soos hy bekend was) by die Christenstudentebeweging betrokke geraak. By die eerste vergadering van die WRK is hy as voorsitter van die jeugafdeling verkies en in 1953 as eerste president van die Wêreldbond van Christenstudentevere­nigings. Reeds as jongman het hy besef hoe belangrik kerkeenheid* vir die sending* is, dat onenigheid onder gelowiges dit dikwels vir ongelowiges moeilik maak om in Christus* te glo. Dit was Niles se passie om Metodiste*, Anglikane*, Presbiteriane* en Bap­tiste* in Ceylon te verenig. Toe die eers­te Oos-Asiatiese Kerkkonferensie in 1959 tot stand gekom het, is Niles as sekretaris-generaal aangewys. In 1969 is hy as een van die presidente van die WRK gekies.

 

Sidebar