NINE-ELEVEN (9/11; 11 SEPTEMBER 2001)

NINE-ELEVEN (9/11; 11 SEPTEMBER 2001). Die skaking van vier Amerikaanse passasiersvliegtuie op 11 September 2001 deur Islamitiese fundamentalistiese terro­riste en die daaropvolgende aanval op die New Yorkse World Trade Center (dit is ver­nietig) en die Pentagon buite Washington DC (dit is beskadig), het sedertdien wêreldwyd bekend geword as “9/11”. Net een van die vier geskaakte vliegtuie het nie sy teiken bereik nie. Byna 3 000 mense is dié dag dood: die bemanning van al vier die vliegtuie, die passasiers, die skakers, mense wat in die toringblokke van die World Trade Center was en brandweermanne. Dié “Aanval op Amerika” het groot spanning gebring tussen die “Christelike” Weste, by name Amerika, aan die een kant, en Islam* – uiteraard veral die aggressiewe, radikale, fundamentalistiese flank daarvan – aan die ander kant. Later het ook treinaanvalle in Madrid en Londen gevolg wat aan Isla­mitiese radikale toegeskryf is. Die intellektuele gisting oor 9/11 is steeds aan die gang. Die vraag is as hoe beslissend daardie enkele dag se gebeure in die lotgevalle van die mensdom beoordeel moet word. Die Suid-Afrikaanse geskiedkundige Leopold Scholtz meen dat die wêreldgeskiedenis op daardie dag ’n nuwe fase betree het, en noem ’n kenmerk van dié fase “’n toenemende polarisasie tussen die radikale Islam en die res van die wêreld”. Die Amerikaanse historikus Joseph J Ellis beskou 9/11 egter nie as só deurslaggewend nie. Hy wys daarop dat ander gebeure in die geskiedenis (die Amerikaanse Burgeroorlog, die Tweede Wêreldoorlog*, die Koue Oorlog) die Amerika soos ons hom ken op verskillende maniere met uitwissing bedreig het, maar nie 9/11 en sy naweë nie. Nog ’n Amerikaanse historikus, Niall Ferguson, meen dat 9/11 se nalatenskap oor die volgende kwarteeu sal ontvou, onder meer deurdat Amerika sy dominante posisie as enigste supermoondheid sal verloor en op die ou end selfs nie meer deur die radikale as die eintlike of die enigste “Groot Satan” gesien sal word nie. (Die Burger, 12 September 2006; Time, 11 September 2006.)

 

Sidebar