NINEVE

NINEVE (naby Mosul, Irak) was een van die hoofstede van Assirië*. Veral deur die toedoen van Sanherib* (705–681 vC), en Assur­banipal* (669–627 vC), was dit die mag­tigste en grootste stad van die destyds bekende wêreld. Die stad was geleë aan die oewer van die Tigris, waar die Goser, as syrivier, by die Tigris aansluit. Die stad het bestaan uit Nineve in engere sin, maar met insluiting van die stedekompleks van Nineve, Kalag, Resen en Ribat-Nina. Isjtar*, die godin van liefde en oorlog, is daar vereer. Volgens Gen 10:11-12 het Nimrod die stad gebou. Elders in die Bybel* word Nineve as die vyand van Israel* bestempel. Die meeste Bybelverwysings is na die val van die stad. Dit is in 612 vC deur die Babiloniërs*/Mediërs* verwoes (vgl Sef 2:13-15; Nah 1–3; Jona 3:4; Luk 11:30). Die stad/inwoners vorm deel van ’n satire teen Israel* (Jona 1:2; 3:2-7; 4:11). Húlle sal die geslag van Jesus* oordeel (Matt 12:41; Luk 11:30, 32).

Geskrifte van die tyd verwys nie na ’n bekering van Nineve nie (Jona 3:4-5), tensy dit verband hou met sonsverduistering of rampe (763 vC). In sulke omstandighede sal konings van hulle troon af opstaan (Jona 3:6). Daar was wel ’n aardbewing in die tyd van Jona*, seun van Amittai* (2 Kon 14:25). Die biblioteek van Assurbanipal is in die stad ontdek en verteenwoordig die belang­rikste bron vir die geskiedenis/kultuur van Assirië. Opgrawings het ook ’n weergawe van Sanherib se aanval teen Jerusa­lem* (Hiskia*) blootgelê. Hiskia moes be­lasting aan Nineve betaal (2 Kon 18:14; 19:36; Jes 37:37). Sanherib is deur sy seuns daar vermoor (2 Kon 19:37; Jes 37:38).

Vir verdere lees: DN Freedman (hoofred) 1992. Anchor Bible Dictionary. New York: Doubleday. JD Douglas 1998. Illustrated Bible Dictionary. Leicester: IVP. GA Buttrick 1962. Interpreter’s Dictionary of the Bible. Nashville: Abingdon Press. MC Tenney 1975. Zondervan Pictorial Encyclopedia of the Bible. Grand Rapids: Zondervan.

 

Sidebar