NKOSI SIKELEL’ IAFRIKA

NKOSI SIKELEL’ IAFRIKA. Suid-Afrika se Nasionale Lied (“Volkslied”) is saamgestel uit twee verskillende liedere, “Nkosi Sikelel’ iAfrika” en “Die Stem* van Suid-Afrika”, wat aangevul is met ’n laaste gedeelte in Engels. In die Nasionale Lied word vyf verskillende tale ge­bruik, waarvan vier altyd saam voorkom (isiXhosa of isiZulu saam met Sesotho, Afri­kaans en Engels).

Enoch Sontonga, ’n onderwyser by ’n Metodiste*-sendingskool in Johannesburg, skryf in 1897 die geestelike gesang “Nkosi Sikelel’ iAfrika” (God seën Afrika) in isi­Xhosa. In 1927 voeg die digter Samuel Mqhayi nog sewe isiXhosaverse by, en in 1942 publiseer Moses Mphahlele ’n Sesotho­weergawe.

“Nkosi Sikelel’ iAfrika” word gewild na­dat die Ohlange-Zoeloekoor dit tydens konserte begin sing het, en dit as ’n geliefde kerkgesang gebruik is. Tydens die apartheids*jare was dit vir alle praktiese doeleindes ’n verbode lied in Suid-Afrika.

Op 20 April 1994, by die aanvang van die nuwe staatkundige bedeling in Suid-Afrika, vaardig die staatspresident ’n proklamasie uit waarin bepaal word dat “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, sowel as “Die Stem van Suid-Afrika”, die Republiek se Nasionale Liedere sal wees. In 1997 word ’n verkorte, gekombineerde weer­gawe van die twee liedere aanvaar, wat sedertdien as Suid-Afrika se amp­telike Nasionale Lied gebruik word.

Sidebar