NOAG

NOAG word in Gen 5:28-32 bekend gestel as die seun van Lameg* en die pa van Sem*, Gam* en Jafet*. Sy naam beteken “om te rus”, “die bringer van verligting” of “die een wat ons gaan opbeur”. Noag is die hoofkarakter van die vloedverhaal* (Gen 6:5–9:18). God het aan Noag opdrag gegee om ’n ark*1 volgens spesifieke afmetings te bou.

God was teleurgesteld oor wat van sy skepping* geword het, want die mens was verdorwe en boos. God besluit om ’n einde daaraan te maak. God maak egter ’n uitsondering met Noag, want hy was regver­dig en het saam met God gewandel (Gen 6:9; Eseg 14:20). Noag, sy vrou en sy drie seuns met hulle vroue het die vloed oorleef.

Ander figure soos Noag word gevind in die Mesopotamiese (Sumeriese* en Akka­diese*) literatuur. In die Sumeriese vloedverhaal ontmoet ons vir Ziusudra, en in die vloedverhaal wat deel is van die Gilgamesj-epos* is die held se naam Utnapishtim. In hierdie Mesopotamiese verhale verkry die held onsterflikheid.

Nadat die vloed afgeloop het, het Noag aan God geoffer en God het met Noag ’n nuwe verbond* gesluit, met die reënboog* as teken. Verwysings na God se beloftes aan Noag word ook gevind in Jes 54:9.

 

Sidebar