NOLAN, DENNIS JAMES HARRY (AL­BERT)

NOLAN, DENNIS JAMES HARRY (AL­BERT) (1934–). “Albert” is Nolan se gees­telike naam. Hy is ’n Domini­kaan­­se pries­ter*2 wat in 1954 by die Or­der of Prea­chers (OP) aan­ge­sluit het. Ná sy doktorsgraad in Rome, doseer hy teologie* op Stellen­bosch in die 1960’s en was studenteka­pelaan vir Kato­lieke* studente in die 1970’s. Sy boek, Jesus before Christianity (1979) is al 25 keer herdruk en reeds in tien tale vertaal. Hy is ’n stigterslid van die ICT (Institute for Contextual Theology) waaruit die Kairos-dokument* in 1985 voortgekom het: ’n groepsdokument wat Nolan op skrif gestel het. Die doel was om ’n profetiese bevrydingsteologie* voor te stel waar God aan die kant van die onderdrukte is. In 2003 ontvang Nolan die Orde van Luthuli (Silwer)-toekenning vir sy stryd teen die teologiese regverdiging van apartheid*. Nolan se aansien spreek uit die feit dat hy in 1983 verkies is tot Master General van die Dominikaanse Orde wêreldwyd – ’n posisie wat hy van die hand gewys het omdat hy hom geroepe gevoel het om sy rol in spanningsgeteisterde Suid-Afrika te speel. Hy was vir drie termyne “VicarGeneral” van die Dominikane in Suid Afrika (1976–1984; 2000–2004). Nolan het probeer om nie-akade­miese, grondvlak-teologie in sy radikale kerktydskif, Challenge, te ontwikkel.

Vir verdere lees: A Nolan 1988. God in South Africa: The Challenge of the Gospel. Kaapstad: David Philip. MT Speckman en LT Kaufmann (red) 2001. Towards an Agenda for Contextual Theology: Essays in Honour of Albert Nolan. Pietermaritzburg: Cluster Publications. A Nolan 2006. Jesus Today: A Spirituality of Radical Freedom. Maryknoll, New York: Orbis.

Sidebar