NOMINALISME

NOMINALISME is ’n stroming in die Middeleeuse filosofie* waarvolgens alge­mene begrippe (soos “rooiheid”, dit wil sê dit wat alle rooi voorwerpe met mekaar in gemeen het) net name (Latyn: nomina) is, en dus nie werklik bestaan nie. Die nominalisme het ontstaan as ’n reaksie op die realisme*, waarvolgens algemene begrippe wel reëel bestaan, hetsy in hulle instansies in afsonderlike entiteite, of daarbuite in die ryk van volmaakte ideë. ’n Tussenposisie is ingeneem deur die sg konsep­tua­liste*: Algemene begrippe is konsepte, dit wil sê verstandelike werktuie waarmee ons ooreenkomste tussen indiwiduele enti­teite aandui.

In die laat Middeleeue raak die nominalisme via Willem van Ockham verbon­de aan teologiese voluntarisme*: Nie inherente kragte of gegewens (bv die sakramente*, of ons morele status) bepaal ons lot nie, maar slegs die wil* van God. Handel God uit sy “absolute mag”, dan gaan Hy in volstrekte willekeur met ons om. Handel God uit sy “geordineerde mag”, dan hou Hy Hom aan die orde wat deur Hom ingestel is, sowel in die natuur as in die genade*. In die genadeleer lei die laaste moontlikheid deurgaans tot semi-pelagia­nis­me*: God beloon diegene wat doen wat hulle kan om hulle heil te bewerk. Hierdie teologiese konsekwensies het die nomina­lisme by baie Katolieke* sowel as in die Protestantse teologie* in onguns gebring. Onlangse navorsing dui egter aan dat daar geen regstreekse verband is tussen nominalisme in filosofiese sin (wat bv ook deur Luther* aangehang is) en hierdie teologiese posisies nie.

Sidebar