NOODLOT

NOODLOT. Die woord noodlot (Latyn: fatum; Grieks: moira), dui op die idee dat ’n onafwendbare mag die heelal beheers. By Homerus is die moira ’n hoër, duister, blinde mag waarvan selfs die gode afhanklik is. By die Stoïsyne*, derde eeu vC, kom die noodlotsleer as wysgerige fatalisme* voor. Hulle vereenselwig god en wêreld. Die heelal is gedetermineerd deur ’n blinde, duister, willose en onredelike mag wat met die wêreld saamval en alles met blinde noodsaaklikheid bepaal. By die Islam* tref ons dieselfde noodlotsleer op reli­gieuse terrein aan. Daar lê in hulle Gods­begrip ’n noodlotsgedagte, want die soewereiniteit wat hulle aan God toeskryf, lyk uit Christelike perspektief baie soos dié van ’n Oosterse despoot wat volgens sy gril­le die wêreld regeer.

Die noodlotsleer is direk in stryd met die Christelike Godsbegrip en wêreldbeskou­ing. Ons glo in God wat sy skepping* respekteer en onderhou en wie se genade*, liefde* en geregtigheid* kenmerkend is van sy voortgesette betrokkenheid daarby. God se skepping en sy skepsels is nié uitgelewer aan ’n blinde, duister, willose en onredelike mag of “noodlot” nie!

Sidebar