NOORDMANS, OEPKE

NOORDMANS, OEPKE (1871–1956) het in ’n gesin grootgeword waarvan die orto­dok­se (“regsinnige”) Nederlandse Hervormde Kerk se stem­pel van vroomheid* dwarsdeur sy lewe merkbaar was. Sy pa was ’n boer en leke­teoloog. Ná sy skoolopleiding het hy by die teologiese fakulteit by Leiden ingeskryf en is sterk gevorm deur die etiese rigting in die teologie*. In 1903 is hy in sy eerste gemeente, Idsegahuizen-Piaam, bevestig. In 1910 verskuif hy na Suameer. Daar verdiep hy hom onder meer in die Duitse Idealisme en die nuwer ontwikkelings in die natuurwetenskap. In 1923 word hy leraar van Laren waar hy in 1943 emeriteer.

In die 1930’s was Noordmans betrokke by die reorganisasie van die Nederlandse Her­vormde Kerk. Heelwat van sy tyd en publikasies is aan die liturgiese* beweging gewy. Hy het standpunt ingeneem teen G van der Leeuw wat die erediens* tot ’n kultusmisterie wou omvorm. Noordmans het gepleit vir die reformatoriese eenvoud. Hy het ’n absolute openbaringsbegrip verkon­dig: daar is geen wesenskennis van God uit die natuur moontlik nie, maar daar is in die lig van God die moontlikheid van ’n “geestelike” (pneumatiese) kennis van die werklikheid. Hierdie grondbeginsel om alles in die lig van God se Gees* te beskou, tipeer Noordmans se hele teologie.

 

Sidebar