NORM

NORM kom van norma (Latyn) en was oorspronklik die benaming vir ’n skrynwerker se reghoek. In die Christelike etiek* dui die term “norme” op standaarde, begin­sels* of reëls* vir morele gedrag. Dit word gewoonlik verstaan as ’n meer konkrete kriterium as ’n etiese waarde* waaruit dit afgelei is (Kyk by: Waardes). Byvoorbeeld: Uit ’n basiese morele waarde soos “respek vir lewe” word “jy mag nie moord pleeg nie” as norm afgelei.

Die deontologiese benadering in die etiek fokus uitsluitlik op vaste norme: “Wat staan in die wet geskryf?” (Kyk by: Deonto­logie). Die teleologiese benadering se norme is nie vas nie, maar soepel, omdat norme vasgestel word op grond van die vraag: “Watter optrede sal die beste gevolg hê?” wat verskillend beantwoord kan word (Kyk by: Teleologie). Joseph Fletscher meen Jesus* en Paulus* het die veelvuldige nor­me van die tora* vir slegs een norm, nl die liefde, verruil (Kyk by: Situasieetiek). Paul Ramsey oordeel weer dat Christene ’n veelheid van beginsels of norme nodig het om aan die Christelike liefde gestalte te gee.

 

Sidebar