NOTH, MARTIN

NOTH, MARTIN (1902–1968) studeer teo­logie* en Semitiese tale* in Leipzig waar hy onder die invloed van Albrecht Alt kom wat sy belangstelling in die geskiedenis van Ou Israel* en argeologie* stimuleer.

Hy word professor in Königsberg (1930–1944), en doen aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog* militêre diens as soldaat waartydens al sy boeke en manu­skrip­te vernietig word. In 1946 word hy professor in Bonn waar hy in 1967 emeriteer. Tydens ’n besoek aan die Negevwoestyn in Israel sterf hy onverwags in 1968 aan kroonslag­aartrombose en word in Betlehem be­gra­­we.

Op voetspoor van voorbeelde in Ou Griekeland en Italië, argumenteer Noth dat die twaalf stamme van Israel as ’n “amfiktionie” (’n federasie van twaalf stamme) gefunksioneer het en dat dit die politieke basis vir die latere koningskap gevorm het. Na aanleiding van sy tradisiehistoriese on­dersoek van die Pentateug*-verhale, kom hy tot die gevolgtrekking dat daar aanvanklik losstaande tradisies oor bv die beloftes aan die aartsvaders* en die uittog* uit Egipte* bestaan het wat later gekombineer is om die huidige Genesis* tot Nu­meri* te vorm. In ooreenstemming met Alt argumenteer hy na aanleiding van argeologiese opgrawings dat die intog* in Pale­sti­na* hoofsaaklik vreedsaam was en nie met militêre verowering gepaard gegaan het nie. Sy kommentaar op Josua* het weer tot gevolg gehad dat hy die boeke vanaf Deuteronomium* tot 2 Konings* as die produk van ’n Deuteronomistiese geskiedskrywer (Kyk by: Deuteronomistiese geskied­werk) beskou het wat tydens die Babilo­niese ballingskap* ’n oorsig oor die ge­skie­denis van Israel gegee het.

Sidebar