NTISIKANA

NTISIKANA (circa 1760–circa 1821), ook bekend as die Môrester van Afrika, is gebore as lid van die Cira-stamgroep wat tot die Xhosas* behoort. Volgens die Xhosa-le­gende het Ntsikana hom tot die Christelike geloof bekeer voordat die sendelinge* sy gebied bereik het. Daar word vertel dat die weerlig eendag sy woonplek getref het. Daardie selfde dag is sy vertrek na ’n dans­party vertraag deur ’n skielike warrelwind. Hy hét uiteindelik die party bygewoon, maar sommer gou weer vertrek en ook sy familielede aangesê om te gaan. Hy het geen rede daarvoor verstrek nie. Later, terwyl hy besig was om hom in ’n stroompie te was, het hy wel verklaar: “Mense moet bid eerder as dans.”

Nadat Ntisikana in 1815 deur ’n visioen aangespoor is om die Christelike boodskap te verkondig, het hy begin rondgaan. Hy het mense in riviere gedoop, die Sondag as rusdag en ’n lewe van gebed gepredik. In 1819 is hy weens sy godsdienstige oortui­gings gedwing om die Katriviervallei te verlaat, waarna hy hom in die Tyumevallei gevestig het, by Thwathwa. Hy het ander wat vir hulle geloof vervolg is, bemoedig en aangespoor. Hy het gesê hulle moet bereid wees om vir hulle geloof te sterf eerder as om dit te versaak. Baie mense het by Thwathwa onder ’n boom bymekaargekom om hom te hoor preek.

Ntisikana is ’n voorbeeld van ’n persoon wat Christelike beginsels uitgeleef het in ’n samelewing en kultuur van Afrika*. Hy was ’n kragtige prediker en het ook Christelike liedere geskryf. Vier van sy gesange het staatmakers in die Suid-Afrikaanse Christe­li­ke repertoire geword. Een daarvan is die beroemde “Uhin guia inkulu siambata tina” (“Hy wat ons mantel van troos is”).

Vir verdere lees: E Syphus 1981. Man through the ages. Pietermaritzburg: Shuter & Shooter.

Sidebar