NTLHA, MOSES KABELO (MOSS)

NTLHA, MOSES KABELO (MOSS) (1958–) is ’n wiskundige en chemikus wat die algemene sekretaris van die Evangeliese Alliansie van Suid-Afrika geword het. Hy studeer eers aan die Universiteit van die Noorde en later teologie* by Unisa en die Universiteit van Natal. Hy werk aanvanklik as metallurg in die mynindustrie. Later word hy pastor van ’n plaaslike evangeliese gemeente. Ná die verskyning van die Kai­ros-dokument* in 1985, het ’n oorwegend swart groep “concerned evangelicals” die Evangelical Witness die lig laat sien. Hierin kritiseer hulle evangeliese Christene se nie-politieke betrokkenheid, en stel voor dat hulle Bybelgetrou maar sosiaal relevant moet wees. Die oorwegend swart Con­cerned Evangelicals en die oorwegend wit Evangelical Fellowship of South Africa (EFSA) onder leiding van Hugh Wetmore, het in 1995 saamgesmelt in die Evangelical Alliance of South Africa (TEASA). Ntlha dien as die eerste algemene sekretaris van dié liggaam. TEASA verteenwoordig 29 deno­minasies en ongeveer 3 miljoen Christene in Suid-Afrika (gereformeerd*, presbiteriaans*, pinkster* en charismaties*). Hulle is geaffilieer by die World Evangelical Alliance.

 

Sidebar