NUMERI (BYBELBOEK)

NUMERI (BYBELBOEK) is die vierde boek in die Pentateug* of tora* en vertel die verhaal van Israel* se trek van veertig jaar deur die woestyn. Die Hebreeuse* naam van die boek beteken letterlik “in die woestyn”.

Indeling: ’n Mens sou die verhaal in drie (geografiese) dele kon indeel. Die eerste deel behels die tyd in die Sinai*1-woestyn (1:1–10:10), waar die Israeliete hulleself voorberei vir die res van die trek. Dit begin met ’n sensusopname in hoofstuk 1, vertel dan van verskillende voorbereidings en wette (5–7), en sluit in hoofstuk 9 af met die op­rigting van die tabernakel* waar die wolk en die vuurkolom te voorskyn kom. Die tweede deel speel af in die omgewing van Kades in die Paranwoestyn (10:11–20:13), waar Israel die grootste deel van die veertig jaar deurbring. Die derde deel is die trek vanaf Kades na die Moabsvlakte (20:22– 36:13). Dit sluit die verhale van Bileam* in (22–24) en sluit af met die finale voorbereidings om die land in te neem (32–36).

Numeri kan egter ook ingedeel word op grond van die twee sensusopnames wat gehou word in hoofstuk 1 en 26. Die tweede sensus vind plaas kort nadat nog ’n plaag uitgebreek het (hoofstuk 25). Met die tweede sensus breek ’n nuwe tydvak aan, met die ou murmurende geslag wat (met die uitsondering van Kaleb* en Josua*) uitgesterf het. Die karakter van die verhaal ver­ander vanaf hoofstuk 27 met die ge­durige murmurering en rebellie (kyk veral na 11–14; 16–17; 20:1-13; 21:4-9) wat plek maak vir getrouheid en dapperheid (kyk bv na 32).

Genre: Hoewel Numeri in breë trekke ’n verhaal is, is dit ook deurspek met ander genres soos statistiese inligting (1; 3; 4; 7; 26), poësie (20:14-18, 27-30; 23:7-10, 18-24; 24:4-9; 15-24), rituele voorskrifte (5; 6; 8; 9; 15; 18; 19; 28–29) en ander wetgewing (5; 15; 27; 30; 36).

God se trou en God se teenwoordigheid: Die “hoofkarakter” in die boek is God wat altyd getrou bly aan sy verbond*. Hy hou aan om Israel deur die woestyn te lei en om vir hulle te sorg ten spyte van erge ontrou aan Israel se kant. Die vernaamste kenmerk van God in Numeri is die feit dat Hy “lankmoedig en vol liefde” is, waaraan Moses Hom herinner in 14:17. Op grond van Moses se intrede vir die volk, vergewe God. Selfs uit die mond van die heiden*, Bileam*, word God se trou besing (sien 23:19-24). Bileam word deur Balak* gehuur om Israel te vervloek (22), maar ontwikkel dan in ’n regte profeet* wat God se wil verkondig, en nie ’n waarsêer wat uitsprake op versoek kan lewer nie.

Nog ’n eienskap van God wat in Numeri belangrik is, is God se “teenwoordigheid” (Hebreeus: kabod) wat veral duidelik is in die wolk en vuurkolom wat die tabernakel* oordek (9:15-16). God lei ook die Israeliete deur die woestyn deur hierdie tekens van sy teenwoordigheid.

Moses: Die vernaamste menslike karakter in die verhaal is Moses*. Dit is verrassend hoe menslik en eerlik Moses uitgebeeld word. Ons hoor nie net van sy goeie kante nie, maar ook sy slegte kante soos sy selfbejammering (11:14) en sy woede wat uiteindelik lei tot sy ondergang (20:10-11) wanneer hy dit laat klink asof hy en Aäron* water uit die rots uit laat kom en nie God nie. Maar ten spyte van hierdie enkele swakpunte, bly hy ’n geestelike reus in hierdie verhaal. Hy is die een wat by God intree (11:2; 12:13; 14:13-20; 16:22; 21:7), hy is ’n goeie militêre leier (21:12–22:1; 31), ’n uitstekende onderhandelaar (32) en hy is die een wat as tussenganger optree wanneer God se wil gesoek moet word (sien 15:32-36; 27:1-11; 36:1-10).

Tradisioneel word Moses beskou as die outeur van Numeri (en die res van die Pen­tateug*), maar dit word nou deur die mees­te geleerdes bevraagteken. Geleerdes argumenteer eerder dat die boek baie later – ná die ballingskap* – finaal op skrif gestel is. Baie sal wel toegee dat dele van die boek baie oud kan wees en dalk sou kon teruggaan na Moses. Daar is ook geleerdes (meestal Joodse* geleerdes) wat die boek dateer uit die tyd vóór die konings.

Leviete en priesters: In Numeri leer ken ons baie ander instellings van Israel soos die rol van Leviete* en priesters*1, die nasi­reër*-gelofte (Num 6) en offers*. Dit is veral die Leviete wat die kollig in Numeri steel. Hulle kry hulle eie sensus (3–4), ontvang waens vir hulle take (7:6-9), word ritueel gereinig (8:5-22), dra die tabernakel (10:17, 21). Hulle neem ook deel aan die rebellie onder Korag* (16:7-10) teen Aäron* en verloor in die proses aansien omdat hulle daarna tot Aäron se beskikking gestel word (18:3). ’n Belangrike funksie wat hulle vervul het, was die “diens by die tabernakel” (31:30, 47) wat sommige geleerdes verstaan as ’n soort kordon wat om die heiligdom gevorm is deur die Leviete om die heiligdom te beskerm van “onreine” indringers. As beloning ontvang die Leviete ’n vyftigste van die buit (31:30, 47) en ook 48 stede in die beloofde land (35).

Aäron en sy seuns was die priesters en hulle het die alleenmandaat met offers gehad (18). Indien die Leviete dit sou doen, sou hulle sterf (18:4). Ander pligte het ook behels die oppak van die tabernakel voordat die Leviete dit sou dra (4:1-20) en die bekende priesterlike seën (6:22-26). Vir hulle diens het die priesters ook iets ontvang soos dele van die offers, die eersteling van alle volmaakte diere en ’n tiende van die tiende* wat die Leviete gekry het (18:25-32).

Vir verdere lees: J Milgrom 1990. Num­bers (JPS Torah Commentary). Philadelphia: Jewish Publication Society. PA Verhoef 2006. Die boek Numeri. Wellington: NGKU.

 

Sidebar