NÜRNBERGER, KLAUS

NÜRNBERGER, KLAUS (1933–) is op Swakopmund, Namibië, gebore en het aanvanklik landbou aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Ná sy huwelik met Mar­garete (Maxi) Sieburg, ’n reisende sekretaresse van die CSV*, het hy besluit om ’n sendeling* te word. Die egpaar het na Duits­land vertrek waar hy aan die universiteite van Hamburg, Göttingen, Tübingen, Müns­ter en Marburg teologie* studeer het. Hy is as Lutherse pastor opgelei en het sy doktorsgraad in sistematiese teologie by Mar­burg verwerf. Van 1968 tot 1979 het hy vir die Berlynse Sendinggenootskap as pastor in die Lutherse Kerk* in Suid-Afrika gewerk. In 1978 het hy ’n doktorsgraad by Unisa in etiek* verwerf. Daarna was hy professor in sistematiese teologie by die Universiteit van Natal (1989–1998). Hy is ook besoekende professor aan die universiteite van Berlyn (1974/1975), Sao Leopoldo, Brasilië (1981), Bochum, Duitsland (1982) en Chicago (1991). Hy het ’n professoraat van Bochum van die hand gewys en verkies om sy ekumeniese* werk in Suid-Afrika voort te sit. In ’n merkwaardige artikel in Kerkbode (8 Desember 2006), “Martin Luther – ’n ellendige sondaar soos ons almal!” het Nürn­berger na aanleiding van skerp kritiek in ’n Afrikaanse dagblad teen Martin Lu­ther* se uitsprake en optredes, geskryf: “Luther se fel woorde teen die boere des­tyds en sy aanhitsing van die vorste kan nie goedgepraat word nie. Nog minder kan ’n mens Luther se tirades teen die Jode* verskoon. Dit was verkeerd. Maar of ons dit nou wil weet of nie, Luther was die vader van die Protestantse* beweging as geheel, met al sy wonderlike én problematiese eienskappe. Luther het al die kernbeginsels van die Hervorming* opgestel: ‘Christus alleen’, ‘die Skrif alleen’, ‘genade alleen’, ‘geloof alleen’, die ‘teologie van die kruis’, die gelowige as ‘tegelyk geregverdig en sondaar’. Protestante glo nie aan volmaakte ‘heiliges’ nie. Ons glo in Christus*. Luther se moedige en kragtige optrede wou die evangelie dien en nie sy eie persoon nie.”

 

Sidebar