NUWE GODSDIENSTIGE BEWE­GINGS (NIE-KERKLIK)

NUWE GODSDIENSTIGE BEWE­GINGS (NIE-KERKLIK). Sedert die tweede helfte van die 20ste eeu kom nie-kerklike godsdienstige bewegings sterk na vore. Enkele voorbeelde in die Weste sluit die volgende in.

  1. Transendentale meditasie (TM), ’n internasionale Hindoe*-beweging, is in 1959 deur Maharishi Maheshi Yogi gestig om eenvoudige Vendanta- en Joga-praktyke in die Weste bekend te stel. Die hoof­kwartier van TM is in Switserland, met ’n eie universiteit in Iowa (VSA). Die invloed van TM het in Westerse kringe toegeneem weens Maharishi se openbare vriendskap met die Beatles-popgroep gedurende die 1960’s.
  2. Hare Krisjna* is ’n Hindoeïstiese bewe­ging wat in 1965 deur AC Bhaktivedanta Swami in Los Angeles bekend gestel is. Hy propageer onder andere die herhaalde dreunsing van die name van die god Visjnoe en sy inkarnasies.
  3. Satanisme* neem in ons tyd verskillende vorms aan en verskeie groepe kan daarmee verbind word. Een voorbeeld is die sogenaamde “Kerk van Satan” wat in 1966 deur Anton La Vey in San Francisco gestig is, met klem op die uitleef van dierlike instinkte sonder skuldgevoel. ’n Ander groep aanbid Satan* as prins van alle boosheid, met die hoop om ná die dood in sy duister domein opgeneem te word. Alle groepe aanbid Satan vurig en verwerp die God van die Bybel*. Ook in Suid-Afrika is daar volgens sommige ramings reeds duisende Sataniste.
  4. New Age (NA) is die versamelnaam, aan astrologie ontleen, vir allerlei bewegings, veral sedert die 1960’s, met ’n gemeenskaplike visie vir ’n nuwe wêreldorde. Volgens NA leef ons tans onder die sterrebeeld van Akwarius, wat ’n nuwe heils­tydperk vir die wêreld sou inlui. Sedert 1975 word NA-idees wêreldwyd versprei; in Suid-Afrika onder andere deur die tydskrif Odyssey. Die sentrale gedagte van die NA is dat God, mens, natuur en kosmos wesenlik een is, sodat alles met alles saamhang in één onpersoonlike krag­veld. Sommige NA-kringe beoog een wêreldgodsdiens deur die herlewing van ou Babiloniese misteriegodsdienste.

‑   Ook in die Ooste is daar sedert die tweede helfte van die 20ste eeu ’n ople­wing van nuwe godsdienstige bewe­gings. Die beste voorbeeld is waarskynlik die snel-groeiende Japanse Sokka Gak­kai, wat sedert 1978 ook internasionaal bekendgestel is. Hulle basiese leerstelling lui dat almal geluk kan vind deur te skep wat goed, mooi en voorde­lig is. Ver­lossing is onmiddellik verkrygbaar deur Boeddhistiese Verligting.

Sidebar