NUWE HERVORMING (NH)

NUWE HERVORMING (NH) is die benaming wat gegee is aan die teologiese benadering van ’n groep Suid-Afrikaanse akademici, waaronder veral teoloë maar ook medici en psigoloë (Sakkie Spangen­berg*, Pieter Craffert, Hansie Wolmarans, Pieter Botha, Maretha Jacobs, Jacques en Carol Kriek, Wilhelm Jordaan). Die NH het sedert die verskyning van die toekoms­kundige en kreatiwiteitskonsultant Piet Mul­­ler* se artikels in Insig (Junie 2000) en Beeld (25 Januarie 2002) ’n heftige debat ontketen oor die vorm en inhoud van godsdiens soos wat dit in die hoofstroomkerke in Suid-Afrika voorkom. Veral die persoonlik-piëtistiese reduksie van die Bybelse* boodskap en die modernistiese weten­skaps­­beskouing soos wat dit in van hierdie hoofstrome neerslag vind, word krities bevraagteken. As kernvraag geld: Kan ons die leefwêreld van die Apostoliese Ge­loof­belydenis* net so in ’n postmoderne* wêreld bely? En hulle antwoord is: Nee. Vooraf­gaande internasionale ontwikkelings het ook in hierdie kritiese standpuntinnames van die NH ’n sterk rol gespeel. Daaronder val veral publisiteit wat gegee is aan die werk van die Amerikaanse Bybelwe­ten­skaplike groep, die Jesus Seminar* (met hulle navorsingsbevindings oor die historiese Jesus*), en ’n ontploffing van kennis oor die destydse Bybelse leefwêreld – veral na aanleiding van argeologiese* ontdek­kings in die Nabye Ooste. Hier kan genoem word die ontdekking van die stad Ugarit* in 1928 in Sirië, die Nag Hammadi-tekste in 1945, die Tomas-Evangelie, die ontdekking van die Dooie See-rolle* in 1947, ’n nuwe uitgawe van die Griekse teks van die Nuwe Testament*, en dan ook eietydse weten­skap­like ontwikkelings soos die evolusie­leer en die oerknal- en die uitdyende-heel­al-teorieë. Van besondere belang as stukrag vir die NH is die oortuiging dat teologie* deur ons beoefen moet word as mense wat hier en nou lewe, en nie daar en toe nie. As kritiese punte geld onder andere sienings oor Skrifgesag* en Skrifgebruik, tradisio­nele belydenisse (bv oor God, Je­sus*, maagdelike geboorte*, opstanding*, die Heilige Gees*, sondeval*, erfsonde*, he­mel* en hel*), tradisionele waardes (b­v die posisie van die vrou, sek­sualiteit*) en ook die verhouding van die Christelike godsdiens tot ander godsdienste van die wêreld. Die NH voer aan dat die diskoerse wat in hoofstroomkerke in Suid-Afrika gevoer word, onderdrukkend, verne­derend en selfs sosiaal-polities gevaarlik is, aangesien dit onverdraagsaamheid en voor­oor­dele ondersteun. Voorop staan vir die NH – met uiteenlopende ak­sente – die soeke na nuwe vorms van spiritualiteit en eietydse geloofsbelewing, ten einde vorm te gee aan ’n Christelike geloof hier en nou wat relevant vir die toekoms is.

NH se sienings tas ongetwyfeld kern­aspekte van die tradisionele en selfs minder tradisionele Protestantse* en gerefor­meer­de* teologie aan, en word uit hierdie kring ernstig gekritiseer, terwyl die belang­rikheid van ’n Christelike geloof en teologie wat re­levant is en met eietydse kennis en insigte rekening wil hou, meestal deur die kritici erken word – maar dan sonder om die ba­ba saam met die badwater uit te gooi. (Kyk ook: Jesus-debat en: Wetenskap en gods­diens.)

Vir verdere lees: Piet Muller (red) 2002. Die Nuwe Hervorming. Pretoria: Protea-Boekhuis.

Sidebar