NUWE MENS

NUWE MENS. Die verskillende woorde wat in die Bybel* met “nuut” vertaal word, beteken dat iets nuut en anders is in tyd en hoedanigheid. Dis beter as dit wat bestaan het. Jesus* se lering is nuut en beter (Mark 1:27); die nuwe lewe is beter as die oue (Rom 6:1-4); die nuwe hemel* en aarde is nuut en beter as die oue (2 Pet 3:13). God maak ’n nuwe begin met ons (Jes 43:19) en gee ’n nuwe gees in ons sodat ons sy wil* kan doen (Eseg 11:19; 36:26-27).

Die nuwe mens het geheel en al ten goede verander. ’n Nuwe mens is God se “nuwe skepping” en een nuwe mensheid het tot stand gekom deur Christus* se ver­soeningswerk* (2 Kor 5:17-18; Ef 2:15). Nuwe mense ontvang ’n nuwe lewe deur Christus se opstanding* en die werk van God se Woord* deur die prediking* (1 Pet 1:3, 23-25). Hulle is “van bo af” wedergebore* deur die Gees* (Joh 3:3, 7 en Tit 3:5), is uit God gebore (1 Joh 2:29; 3:1; 4:7). Hoewel hulle nuut is omdat hulle met Christus beklee is, hou God aan om hulle daagliks te vernuwe (Rom 12:2; 13:14; Kol 3:10; Ef 4:23-24; 2 Kor 4:16 – 1933/1953-Vertaling). (Kyk ook: Mens, ou mens, nuwe mens.)

Sidebar