NUWE SKEPPING

NUWE SKEPPING is ’n begrip wat in 2 Kor 5:17 en Gal 6:15 aangetref word en is nou verwant aan die “nuwe mens*” (Ef 2:15; 4:23-24; Kol 3:9-10). Die nuwe skepping is ’n genadedaad van God (Ef 2:8-10). Hoewel die nuwe skepping die indiwidu insluit, gaan dit oor baie meer as die indiwidu. God het die wêreld* met Homself versoen (2 Kor 5:19). God se nuwe skepping bou ’n nuwe geloofsgemeenskap wat uit Jood* en Griek bestaan (Gal 6:15-16; Ef 2:11-22).

In die Qumran*-tekste is die nuwe skepping ’n verwysing na die wêreld wat in die toekoms* sal aanbreek. God skep nuut omdat Hy die skepping, wat radikaal deur die sonde* aangetas is en besig is om te vergaan (Rom 8:19-22), nie aan hom- en haarself kan oorlaat nie. Met Christus* se wederkoms* sal die ou skepping weergebore word (Matt 19:28) en van die verganklikheid bevry word (Rom 8:20-21). ’n Nuwe hemel en aarde sal die gevolg wees (Jes 65:17-19 en Op 21:1).

God se nuwe skepsels is draers van versoening (2 Kor 5:17-21; Kol 3:11), verwerp wêreldse (onchristelike) standaarde (Kol 3:5-9; Ef 4:25-30), en word gekenmerk deur medelye, geduld*, vrede* en vergifnis (ver­gewing*) (Kol 3:12-17).

Sidebar