NUWE TESTAMENT

NUWE TESTAMENT. Die woord “testament” kom van die Latyn testamentum wat gebruik is vir die regsdokument van nalatenskap ná afsterwe. Dis ’n foutiewe vertaling deur die Latynse Vulgaat* vir die Griekse diatheke en die Hebreeuse berit wat gebruik is vir ’n verbond* of ooreen­koms, veral tussen Jahwe* en Israel*. Die kerk* aanvaar die laaste 27 boeke van die Bybel* as “Nuwe Testament”. Dit handel oor die ontstaansgeskiedenis van die Chris­tendom* op verskeie plekke, soos oor ’n tydperk van 50 jaar deur verskillende skrywers in Grieks* beskryf. Van die geskrifte is aanvanklik aan apostels* toegeskryf (Matteus*, Johannes*, Paulus*, Jakobus*, Petrus*, Ju­das*) en aan hulle leerlinge (Markus*, Lukas*). Volgens inhoud en literêre vorm word dit verdeel in historiese boeke (die Evangelies* en Handelinge*), leerstellige boeke (die Briewe*) en die apokalips (Open­baring*), of in vier groepe: 1. Sinoptiese* Evangelies en Handelinge; 2. Johannese literatuur; 3. Pauliniese literatuur en 4. Alge­me­ne Briewe.

Die formaat van die Nuwe Testament is die gevolg van ’n kanoniseringsproses wat in drie fases verloop het. (Kyk by: Kanon.) Eers is hierdie boeke beskou as die leer van Jesus* Chris­tus* wat voortgesit is deur die apostels. Dit is onder Christene* versprei en gebruik om vreemde leerstellings te weerlê. Teen die derde eeu was die gesag hiervan goed gevestig, maar daar was nog onsekerheid oor Openbaring, Jakobus*, 2 Petrus*, Judas* en 2 en 3 Johannes*. In die vierde eeu is die onsekerheid opgehef toe die kanonisiteit van die 27 boeke amptelik aanvaar is. (Kyk ook by: Kanon en: Nuwe verbond).

Sidebar