NUWE VERBOND

NUWE VERBOND. Slegs in Jer 31:31 verwys die Ou Testament* na ’n “nuwe verbond” wat dui op ’n toekomstige verhou­ding tussen God en sy volk nadat die Mosaïese verbond deur Israel* verbreek is. Hierdie nuwe verhouding wat deur God self bewerkstellig sal word, word ook in ander terme verwag deur Jeremia*, Ese­giël*, Jesaja* en Maleagi*. Dis “nuut” omdat Jahwe* se wet* op die hart van mense ge­skryf sal word en nie soos die Sinai*verbond op kliptafels nie. Dit vorm die middelpunt van ’n groter eskatologiese* hoop van ’n nuwe Sion*, ’n nuwe Dawidiese koning*, en ’n nuwe verlossingshandeling van Godde­like genade* wat die vergifnis van sondes* is (Jer 31:34; Eseg 36:25-28).

Die nuwe verbondsverwagting bestaan ook by die Qumran*-gemeenskap, maar dis veral die Christelike kerk* wat hierdie belofte* op hulleself van toepassing ge­maak het, en by uitstek Hebreërs* wat hier­op uitbrei (Heb 8–10). Hulle verstaan hulleself as die volk van die nuwe verbond, of die nuwe volk (1 Pet 2:5, 9-10; Heb 10:16-17; Gal 4:21-31). Christus* is beide middelaar* en offer* en bewerkstellig dit deur sy sterwe (Luk 22:20; 1 Kor 11:25; 2 Kor 3:6; Heb 9:15. (Kyk ook: Nuwe Testament en: Ou Ver­bond.)

Sidebar